Dagsê Jan.
Dankie vir die regstelling ivm die outeur van “Engels, Engels, orals Engels”, nl Hoogenhout, en nie Langenhoven nie. Ek het kortpad gevat en staat gemaak op my gebrekkige geheue.
’n Paar veralgemenings in jou brief:
Miskien lees ek verkeerd, maar die indruk wat ek van jou kry is dat die Engelsman in jou oë ’n beter persoon is as die Afrikaner viz a viz sy voorliefde en suiwerheid vir sy taal wat in die Afrikaner blykbaar volgens jou ontbreek. Gesien dit nie op feite gebaseer is nie neem ek ook die vrymoedigheid waar om met jou hieroor volgens my opinie te verskil.
Ek het meeste van die Engelssprekende-lande deurkruis, en kan van eerstehandse ondervinding praat wanneer ek jou verseker dat die gemiddelde Engelsman glad nie taalbewus is nie; praat en skryf sy taal in die meeste gevalle ook maar gebrekkig.
Jy sê dat ek sodanig oor Engels is, dat ek eerder sal sterf as om swak Engels te skrywe, vergeleke met my Afrikaans. Ek kan nie onthou dat ek ooit op hierdie forum in Engels geskrywe het, om ’n vergelyking te kan tref nie, en indien dit wel een of twee keer gebeur het, kan sodanige steekproef nie voldoende wees om ’n volstrekte stelling te kan maak soos wat jy gedoen het nie. Ek verseker jou ek kry net soveel kritiek oor my swak Engels as oor my swak Afrikaans. (Ek dink jy verwar my met Cobus Fourie, toevallig ook gay, wat geen familie van my is nie, en wat dan en wan, sy menings altyd in hoogdrawende Engels op hierdie forum lug).
Jy gee my die verdere indruk dat jy glo dat Afrikaans sy oorsprong in die blanke Afrikaner het. Feitlik kan jy enige geskiedenisboek oor die taal lees en agterkom dat die oorsprong wel by die Kaapse slawe was.
Die latere stryd (vroeg twintigste eeu) onder Afrikaners wat Nederlands eerder as Afrikaans as amptelike taal vir die Unie wou gehad het, het selfs destyds dit as kombuistaal uitgeskel, en by implikasie erkenning gegee vanwaar sy oorsprong spruit. Die Boererepublieke het ook Nederlands as amptelike taal gehad.
Dit het ’n handjievol Kapenaars laat in die negentiende eeu geneem om die Afrikaner daarvan bewus te maak dat Afrikaans en nie Nederlands eintlik sy taal is nie, en met die daaropvolgende taalbewegings is die taal deur blankes verfyn en vir hulself as besitreg geëien (gekaap). Niks om oor skaam te wees nie, inteendeel, ’n taal-wonderwerk! Die wonder van Afrikaans!
Ek huldig die siening dat elke indiwidu sy vryheid van keuses in die lewe mag uitoefen. Afrikaners wat verkies om vaarwel aan Afrikaans en die Afrikaner te sê en Engels te word; Afrikaners wat hulle kinders na Engelse skole toe stuur; en Afrikaners wat emigreer, (alles wel betreurenswaardig) is dienooreenkomstig nie vir my enigsins slegte mense nie. Hulle het redes wat vir hulle gegronde redes is en het niks met my of enige ander Afrikaner uit te waai nie. Ek sien hulle ook nie als “verraaiers”, “hensoppers” of “uitverkopers” soos ’n sekere dom verkrampte sektor van Afrikanerdom hulle wil uitskel nie. Dit is ’n natuurlike verskynsel onder alle volkere van die wêreld. Ekonomiese oorwegings oorheers gewoonlik alle ander belange.
Jan van Riebeek ’n “icon” in Afrikaner geledere is vir ekonomiese redes elders buite SA en geen nageslag hier agtergelaat nie. Dieselfde geld vir die Van der Stels. Pierre (of was dit Louis, kan nie meer onthou nie?) Simond, eerste Hugenote-predikant is ook met sy familie weg sonder nageslag; uiteindelik in Engeland gevestig, daar dood; van sy afstammelinge na die VSA met Paul Revere te perd, ’n direkte nasaat van hom, wat die vryheid vir die Amerikaners beredder het. (Simondsig en Simondberg is na hom vernoem). Was laasgenoemde mense in jou oë sleg omrede hulle hulle van die Afrikaner afgesonder het? Indien nie, hoekom dan die moderne Afrikaner so aansien wat soortgelyk optree?
Dat Afrikaans al hoe meer Engelse woorde in die taal gaan inlyf is onvermydelik, en feitlik is daar niks aan te doen nie. Dit is die gemiddelde Afrikaner se eie keuse. Die tegnologie, veral die kommunikasiewese; internet en die rekenaar is Engels ingesteld, met geen bevredigende Afrikaanse alternatiewe nie. Ek weet nie eers wat die Afrikaanse woord vir “giga of megabyte” is nie. Indien wel bestaan, is dit beslis nie in algemene gebruik onder Afrikaners nie! Die puristiese Afrikaner wat die taal na die 1920’s weer wil terugvoer; die Afrikaner wat met perd en ossewa die motor en trok wil vervang, veg ’n verlore stryd; vermorste energie wat elders meer positiefs vir die Afrikaner aangewend kan word.
Aangesien jy die siening huldig dat Afrikaans besig is om ten gronde te gaan, wat sou jou voorgestelde strategie wees om die taal te “beredder”? Wat sou jou voorgestelde strategie wees om die Afrikaner van sy “slapgatgeit” insake sy taal te genees? Dit help nie om gedurig oor die toedrag van sake aanhoudend te ween nie. Of iets daadwerkliks word daaraan GEDOEN, of die “ status quo” word aanvaar, en dat die taal vanself sy eie vlak moet vind. Ek val binne laasgenoemde groep.
Jaco Fourie


