Ja, Yuri, so wonder ons maar almal oor daardie ruiters van die koeltebome. (Jammer, Melt en ander. Ek weet die stuk is lank, maar ek voel nou beter.) Sien jy nou, Yuri!
Ek wil my verbeel dat ek onlangs êrens 'n skrywe onder oë gehad het waarin een van ons landgenote wat hom in hierdie twyfelagtige beroep van "verkeersman" (Kan dit tog politiek korrek wees?) bevind, te velde getrek het teen die snedige aanmerkings, opmerkings en uitbrakings wat hulle daagliks as lede van hierdie hooggeërde beroep moet verduur. Ek het sopas nadat ek jou skrywe oor julle verdrietige situasie in Pretoria gelees het, skielik weer daaraan gedink.
Ek het ook gedink aan alles wat ek vir daardie persoon wou toesnou en het toe maar gemeen dat dit dalk nou die gepaste tyd sal wees om sekere van die kwade gedagtes wat ek toe uitgebroei het, nou hier neer te pen.
Ek woon in Johannesburg. Nou enige een van julle wat nie in Johannesburg - eintlik moet ek sê Gauteng - woon nie, sal nie werklik 'n begrip hê van wat ons arme siele daagliks moet verduur nie, tensy julle van tyd tot tyd mal genoeg of desperaat genoeg is om die Gauteng-oggendverkeer aan te durf. Daarom moet julle asseblief nie dink dat ek iets gerook, gom gesnuif of malpitte gekou het voordat ek hierdie skrywe aanmekaargeslaan het nie.
Ek het die voorreg om my pensioenvretertjie elke oggend by sy skool naby my kantoor af te laai en so het ons dus vele oggende baie pret, asook vele frustrasies. Dit gee my ook telkens die voorreg om die onopgesmukte aandrang op reg en geregtigheid te kan gadeslaan na aanleiding van 'n 9-jarige se beskouinge van die wêreld rondom hom.
Ons sien feitlik elke oggend een of ander "beampte" van die Metro-polisie langs die pad. Hulle sit meestal en wanneer een staan, is dit om by 'n kollega se voertuigvenster te hang en te gorrel. Die verkeerslig mag 10 treë van hulle af buite werking wees, maar dis mos nie hulle probleem nie. Hulle praat maar verder. Partykeer sit hulle agter sulke fênsie kameras. Meestal op dieselfde plek, so ons weet al mooi waar om stadig te ry. So sien ons toe een oggend so 'n kort vet dame en 'n reusagtige blonde beer van 'n beampte by so 'n kamera. Die dame het duidelik nie vroeër tyd gehad om te eet voor sy gery het nie en smul al te lekker aan een of ander peuselding - vrede met die kamera. Blonde Beer het blykbaar weer nie genoeg geslaap nie en lê sommer so skuins in sy stoel en dut agter die kamera wat soos 'n teleskoop op soek na een of ander planeet in die lug op wys.
Ou Yuri, maar die ergste ding is om te ervaar hoe hulle 'n ding wat werk kan opdonder. Een van die paadjies wat ons kan ry (Een positiewe van Gauteng is dat daar genoeg paaie is om die rofste Reccie lekker deurmekaar te ry) kruis 'n redelike belangrike pad naby aan die kantoorblok van 'n groot bankgroep. Na baie ontberinge en gesukkel het die instandhoudingspan van die Groter Johannesburg Metro daarin kon slaag om hierdie spesifieke kruising se verkeersligte so te stel dat die verkeer teen 'n redelike tempo en sonder veel verlies aan ritme vloei. Toe alles mooi vir twee weke gewerk het, tref ons een oggend die ergste verkeersknoop wat ek in jare ervaar het.
Die oorsaak? Twee "beamptes" het besluit dat hulle die verkeer beter kan reguleer en een moerse, maar regtig EEN MOERSE, gemors veroorsaak. Die verkeersligte is nou, na vier maande, nog steeds nie weer reg gesinkroniseer nie.
Ons Metro het mos ook nou so 'n hipermoderne stuk tegnologie gekry. Kan jy glo dat hierdie ding wat soos 'n reuse kamera lyk, jou nommerplaat kan lees en teen die tyd dat jy tien meter verder deur so 'n afgesperde area gery het, kan bepaal of jy enige uitstaande oortredings het. Indien wel, lees hierdie kamera met so 'n kwaai blik-stem jou nommer kliphard uit sodat een van die bekwame beamptes jou van die pad kan verwyder om jou lewe hel te maak. Indrukwekkend!!!! My probleem is egter dat hulle gewildste speeltyd en speelplek spitstyd op die besigste roetes is. Hoe f#%$ken dof!!
Maar nou het ons ook mos maar die reën gehad waarna jy verwys het, en al wat pad is, is in 'n toestand. So val daar toe mos nou ander dag 'n motortjie vas in een van hierdie gate. Die ridders sit toe jou werklik daar naby en ons goedgesoolde, Gucci-gedresde Dame wals na hulle toe om hulp te vra. Ek weet nie wat hulle vir haar gesê het nie, maar jy kon letterlik die rook sien trek. Die ou karretjie is so 10 minute later uitgesleep deur een van my ander gunsteling landgenote - een van daai pad-aasvoëls met so 'n kwaai sleeptrok, wat sy moes bel om te kom help.
Maar nadat ek nou dit alles ervaar het, moet ek sê dat die ding wat my bloed die meeste laat kook, die totale ongeërgdheid is waarmee ons landsgenote mekaar 'n toffie wys deur eenvoudig in die noodbaan te ry asof dit net nog 'n snelbaan is, of by 'n kruising waar die verkeersligte nie werk nie, net doodeenvoudig oor te jaag asof die ander die "fools" is wat nie weet hoe om te ry nie, of om in die vinnige baan op die snelweg aan te kruie teen 60 kilometer/uur, of om te draai sonder om 'n rigtingwyser te gebruik, of .................. Jy kry seker die prentjie?
En die "beamptes" doen fet mooi nôkkol.
Ek wonder hoekom het hulle die "polisie"-gedeelte in hulle naam??
En ek moet dit elke dag beleef. Ek klim sommer nou in my kar en ry Boggomsbaai toe!
Groete uit Gauteng
'n Stem


