My wonderlike, kostelike huishulp het haar eie manier om haarself uit te druk. Sy vertel my nou die dag dat die pomp in haar kamer nie meer reg werk nie. Dit blyk toe die warmwaterkraan in haar wasbak te wees. Eendag kom sy baie ontsteld en rapporteer dat die baie mooi plank in my sitkamer 'n kraak het. Dit het bietjie kreatiwiteit geneem om my groot houtbak van Zambië as 'n plank te sien!
Sy gaan vroeg elke Sondagoggend kerk toe. Sy moet gaan help, want sy is nou 'n 'soulwinnah'!
Sy behoort aan die International Church daar by 'Park Station'. Dit klink 'n bietjie fishy - as hulle klaar Bybel gelees en gepreek het, gaan hulle partymaal na Sterkfonteingrotte toe om onder die grond te gaan bid. Dit beteken baie vir haar en dit pla my nie, ek waarsku net dat sy nie haar geld vir hulle gee nie, want dit sal die arme vrou in armoede dompel as sy met dieselfde geesdrif geld gee as wat sy kerk toe gaan. Elk geval, gisteroggend besluit sy om nie kerk toe te gaan nie, want sy het so 'n snaakse gevoel gehad wat haar verhoed het. Later die dag hoor ons dat 'n trap in die gebou inmekaar geval het. Toeval? Ek glo nie, God het haar gewaarsku, vir 'n rede.
Wat die maagdelike geboorte aanbetref; dit sal meer geloof verg om te glo dat die hele skepping net sommer per ongeluk met een groot ontploffing ontstaan het en dat alles wat tot nou toe in die skepping evoleer het, per toeval net so ongelooflik kompleks gebeur het. Sonder rede en sonder plan. Praat van wonderwerke!
Loof God die almagtige Skepper en Onderhouer van die hele skepping.
Vega (erfgenaam en kind van hierdie Skepper )


