Bokomo-brekfisbrief; 15/11/09: Yslik, eish ... Gilgao en Wollie (Karin, spesiale gedagte aan jou)

  • 0

'n Man strompel by die hospitaal in; vol knoppe, bloed drup by sy ore uit, albei oë blou geswel, 'n nommer vyf gholf-yster om sy nek gevou ...

Die dokter wil weet wat gebeur het. Die man vertel: Ek en my vrou het gholf gespeel. Ons albei het ons houe skeef getrek tussen 'n klomp koeie langs die setperk in. Terwyl ons na ons balle soek, sien ek een van die koeie het iets wits in haar knypspier. Ek het nader gestap, haar stert gelig en daar sit my vrou se gholfbal netjies ingeplant. Met die koei se stert in die lug roep ek verbaas na my vrou, "haai vrou, kyk, dit lyk nes joune!" Ek onthou nie veel daarna nie ...

Dit was my wyse vriend Wollie se troos aan my toe ek hom vertel het van die "eishlike" misverstande op die werf.

Wollie is ook een van die min wat kennis dra van Satan se bankrot veiling. Hy vertel my dat al Satan se gereedskap op die veiling te koop was: haat, jaloesie, leuens, eersug ... te veel om te onthou. Die enigste stukkie gereedskap wat Satan oor het is "mismoedigheid-en-wanhoop". Dit was glo onbekostigbaar vir almal op die veiling aangesien dit Satan se beste stukkie gereedskap is om mense se harte mee te breek. Satan en sy agente olie dit elke dag met Bybelversies uit die Pentateug, vryf dit blink met ons almal se onvermoë om ooit sonder skuld daarin te staan, en bedryf hul vieslike veroordeling teenoor ander daarmee.

Ek en Wollie kom al 'n lang pad. Neels (Husky) Visser se beskrywing van sy Gilgao-figuur het my dadelik aan Wollie laat dink. Mense wat Wollie ken noem hom Koos Lombaard. Almal wat die lewe met hom deel, noem hom Wollie; sag, snoesig, wys, 'n groot borskas (wat al so 'n bietjie gesak het) spesiaal vir plek vir sy groot, groot HART.

Hierdie naweek sit ek en Wollie juis weer saam op 'n plaasdam anderkant Klerksdorp in 'n bootjie met 'n paar kaste Castle Lights om bo te bly. Ons maak gaatjies in gryperige bass-vissies se bekke vir afleiding. In hierdie pragtige plaas-natuur deel Wollie sy vreugde in die wil van Jesus Christus ons God. Dis glad geen ongewone manifestering of so nie iets nie; net regte mense-harte wat bymekaar kom in die troos, liefde, en genade van Jesus Christus ons God.

Ja, ons is nie alleen nie. Ver op 'n plaas iewers onder die swart fluweel vol sterretjies wat skitter, goeie vriende, en 'n reuse kampvuur wat knetter, besef 'n mens gou ons dimensie is net een van baie. Die Opperste van alle dimensies openbaar Homself op 'n unieke wyse aan 'n ieder wat nodig is om met Hom te verenig. Niemand het iets oor 'n ander se hart-ervaringe rondom Hom te uiter nie. Kom ons wees dankbaar vir elke druppel vreugde wat ons in die verloop van ons lewensplan ervaar. Niks is ooit vanselfsprekend nie!

Mag die God van vrede, wat die groot Herder van die skape naamlik onse Here Jesus Christus deur die bloed van die ewige testament uit die dode teruggebring het, julle volmaak maak in elke goeie werk om Sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom, deur Jesus Christus aan wie die heerlikheid toekom tot in alle ewigheid! (Heb 13:20)

Mag Hy gou weer terugkom in Sy Ruimteskip - die Ster van Bethlehem - en ons almal kom haal hier aan die donkerkant van die maan. Daarmee deel ek met julle die vooruitsig van die Wederkoms van Jesus Christus Baba Mungu; die blink môrester. (Op 22:16)

Kom ons sing saam in ons pleit vir verligting van al die vertrappers van mense-harte...

Baba, Baba,
Mungu nipe uvumilivu.
Bwana, Bwana,
Yesu, nipe uvumilivu...

Cornelius Henn

NS Karin, ek bid dat ons Groot Trooster vir jou, en jou gesin, vrede sal bring na die yslike misverstand na my allegorie rondom Asperger-sindroom. Hierdie bydrae van Ilse Salzwedel is die duidelikste wat ek oor die onderwerp gelees het. Karin, daar is maar min begrip op die werf. Jy is besonder in die moeite wat jy doen om te verstaan. Dankie. My dogtertjie, Maria-Catharina-Christina is agt maande oud en sit en kriewel hier op my skoot terwyl ek so met een vinger tik. Sy is pragtig, gesond, en ek en my vrou se enigste. Ons het byna vyf-en-twintig jaar lank vir haar gewag. Ek dink ook hiermee in deernis aan al my maatjies en 'n leeftyd se sindrome tussen ons. Karin, weet jy hoe lekker kuier ons almal gelyk saam? Die een met Asperger, die ander met Aarskog, Wollie, party met bakstene in hul handsakke, ander bipolêr, die res erg opgewonde oor queen Elton wat kom, tot by die Katolieke ekke ... so vul ons mekaar letterlik aan (sonder enige veroordeling) teen al die aanslae in die lewe!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top