Ek het ’n vriend. Dierbare mens. Maar so mal soos ’n haas. Hy glo dinge. Dis nou nie dat ek die glo-storie op sigselwers wil afmaak nie, maar. Jy kan glo wat jy wil. Dit het ook niks met intellek te doen nie. (Dis nou die beskikbaarheid of afwesigheid daarvan.) Hy is hoogs intelligent. Iewers wys of vertel iemand vir hom van ’n “onverklaarbare” ding en hy vat die pad! Hy woon al wat werkswinkel by. Hy koop die boeke en die traktaatjies en die skywe en die pamflette.
Noem hom Piet. (Nie sy regte naam nie. Ek noem almal wat ek anoniem wil bespreek “Piet”.)
Sit ons in die koffiekroeg. Gesels oor die dinge van die lewe. En hier lieg ek nie! Hy weet te vertelle dat mens iemand se persoonlikheid kan lees deur na syse bas te kyk en te vat. Reken dit word gedoen. Wetenskaplik.
Ek: “Piet en wat noem hulle die ding?”
Piet: “Rumpology.”
Ek: “Jy issie ernstig nie!”
Andries: “Klink kinky.”
Taz: “Kan mens behoorlik vat as jy die voorspelling doen? Of streel mens net?”
Piet: “Nee man! Dit word professioneel gedoen! Julle koppe donner ook net in een rigting!”
Ons lê soos ons lag!
So doen ek ’n bietjie navorsing en kom op die volgende af:
Dit word wel “rumpology” genoem. In Afrikaans seker iets soos “basberading”. Ek kan aan ’n paar ander vertalings dink maar mens kan die nie in goeie geselskap noem nie.
Twee bekende (?) praktisyns is Jacqueline Stallone en haar dissipel ene José Miranda. (http://www.jacquelinestallone.com/rumps.html) Die tegniek werk in die rigting van grafologie, die lees van handpalms, metoposkopie, frenologie en so.
Dit werk so:
Deur iemand se bas te bekyk en te bevoel kan jy (As jy glo weet hoe.) syse toekoms en syse verlede voorspel. (Daar is ’n verskriklike grap hier iewers!) Jy kan sy (of haar) persoonlikheid ontleed en dus waardevol van hulp wees. Jou linkerboud werk saam met die regterlob van die brein. En regs na links. Dis nou in die lyn van brein-gat-interaktief.
So wonder ek of ’n harige bas se toekoms anders is as ’n gladde bas. (Ummmm.) ’n Vetgat se persoonlikheid gemeet teenoor die van ’n maergat? Hoe lyk ’n windgat? ’n Ingat? Hardegat? My kop begin wegloop met myse … Jennifer Lopez? Sharapo … Marilyn … Ai tog!
Ek: “Liefie, ek lees van ’n manier om jou persoonlikheid te lees. En sommer jou verlede en toekoms te voorspel!”
My Liefie: “En? Ek vul nie vraelyste in nie! Ek is besig!”
Ek: “Nee man! Ek bekyk en bevoel net.”
My Liefie: “Wat bekyk jy? Waaraan wil jy vat!?”
Ek: “Um. Ek bekyk jouse agterstewe … En …”
Sy is vir ’n oomblik sprakeloos.
My Liefie: “HJ! Is jy ketools?”
Ek: “Wel, na ek oor die ding gedink het, jy weet om jouse bas te bekyk en te bevoel is ek effens …”
My Liefie: “HJ, my liewe man is jy heeltemal gek in jou kop!? Hoekom sê jy nie reguit wat jy wil nie! Laat ek die boeke klaar merk dan bekyk en bevoel jy na hartelus … Ek sien jou toekoms sonder om na jou bas te hoef kyk!”
Oeee! Mammie! Is die wetenskap nie ’n wonderlike ding nie!
HJ


