Bokomo-brekfisbrief; 15/10/09: Oktoberreëns. Johannesburg

  • 0

Hoog bo Johannsburg veg millenniums-oue hemelliggame teen die oer-duister, maar die mense van die stad kan dit nie sien nie, want donderwolke het soos grys lykswa-gordyne tussen hulle en die uitspansel toegetrek. Selfs in mooiweer hang die besoedeling so dig soos ‘n doodskleed tussen Johannesburg en die hemel. So dynserig is dit, dat die maan maar selde groot-oog deurloer en dat sterre (op die plaas, tasbaar soos silwer kersboomversiersels), hier meer ‘n mite as ‘n werklikheid is . Dit is amper mid-Oktober en dieselfde donderwolke van vannag, het al ‘n paar keer hierdie somer ontelbare trane oor Johannesburg kom uit-grens. Eers sug die wolke sag oor die misnoeë van die mens, dan grom hulle, al dieper en meer ontsteld oor die vuil seuns in die vuil strate en oor die stukkende dogters wat uit die hole van die stad na stukkende huise toe teruggaan. Later skryf die wolke harde, kwaai vloekwoorde, in blink-wit gekrabbel oor die swartbord van die nag, terwyl hulle brul soos die leeus wat vroeër op die vlaktes, waar die stad nou staan, gejag het. Dan val die eerste druppels. Groot, swaar, warm trane - om die stof en die roet van die bome af te was ... om die swaarkry van die armes af te spoel ... om die selfvergenoegsaamheid uit die rykes uit te reën ... die siekes gesond te bad ... pyn en hartseer weg te ween.

Maar elke mens kan net homself skoon huil. ‘n Traan kan net die oog was wat hom baar - net die gees reinig wat hom gevorm het . Soos geen-een die gemoed van ‘n ander skoon kan ween nie, kan geen magdom wolke ooit een siel skoon reën nie.

So reën dit dan verniet oor die regverdige en die Goddelose ... huil dit verniet saam met die wat huil ... huil dit ook verniet oor die wat nie vir hulself wil huil nie, of kan huil nie, of nie eers weet dat hulle oor hulself behoort te huil nie ... verniet.
Verniet.
Verniet, wanhopig ween die wolke oor die wrede wêreld.

Tog ... vanoggend is die stad weer skoon.

Die reën het grou-grys bome groen geverf,
Stippel-strepe uit beton gekerf.
Die stank en die stof van die strate
weggevoer na afvoerslote - maar in gate
in die swart geteerde pad,
lê die wolke, blink weerkaats in olierige poele,
langs verdrogte, uitgeteerde spieëlings van die stad.

Carel van der Merwe (Snr)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top