Pouveer het besondere interessante mediese inligting gegee met haar brief oor die moontlike aanwending van dagga as ʼn teenmiddel vir antibiotika-weerstandige staphyllococcus-bakterieë soos gevind in sellulitis as newe-effek van Stevens Johnson-sindroom deur die toediening van verkeerde medikasie.
My vrou het die ongelukkige ervaring gehad om aan die hand van ʼn internis wat haar nie geglo het toe sy sê sy is allergies vir alle tetrasiklines nie, ʼn nuwe generasie antibiotika direk in ʼn drup toe te dien in kardiologie intensief. Die newe-effek van hierdie gemors was Stevens Johnson Sindroom, ook bekend as nekrolitiese dermatitis. Binne twee dae was sy oortrek van blase, wat sere gemaak het nadat dit stukkend gegaan het. Sere met rowe so groot soos ʼn tiensentstuk. Die internis se presiese woorde, toe ʼn tweede opinie sowel as haar huisdokter ingeroep is, was: "O God."
Sy is toe oorgeplaas van kardiologie-intensief na die long-eenheid, met ʼn longvirus ook opgetel in die hospitaal. Na twee weke het ek ʼn vrou gaan haal wat oortrek was met pynlike, jeukende sere. Dit het een en ʼn half jaar geneem voor die laaste een gesond was, en dit het natuurlik merke gelaat.
Toe word sy ʼn diabeet tipe 2 en word glicazide gegee, ʼn generiese tablet wat bloedsuiker beheer. Newe-effek? Stevens Johnsons sindroom! Die oomblik wat haar gestel bietjie af is, slaan daar ʼn blaas uit, gaan stukkend en maak ʼn seer. Agt jaar na die hospitalisasie en die internis se hovaardige woorde, "Niemand was nog ooit vir ... allergies nie!", sukkel ons steeds om hierdie vieslike bakterieë te beheer, al is die medikasie lankal gestaak. Haar bene is van haar voete af tot onder die knieë vol sellulitis, waar die selwande breek en in die omliggende weefsel in bloei deur ʼn staph-bakterie. Dit is weerstandig teen die sterkste kefalosporiene-antibiotika.
Daarom gaan ek, Marduk die Verskriklike, nou doen wat Pouveer genoem het - ek gaan R200 se keurgraad Lesotho Poison en Afghan Blue Cannabis Sativa koop by ʼn Nigeriër, ʼn sterk konkoksie maak, en dit in ʼn basisroom soos Vitamine E-room inmeng en aan Mevrou Marduk se bene smeer. Ek sal julle op hoogte hou hoe dit werk al dan nie, want Stevens Johnson Sindroom en gepaardgaande sellulitis is ʼn nagmerrie wat ek op niemand toewens nie, en as ek daardie verdomde perdedokter ooit in die hande kry, sal hy weer sy famous twee woorde herhaal as sy swanesang!
Woedende Marduk die Verskriklike


