Bokomo-brekfisbrief; 15/07/09: Battle of the sexes

  • 0

 

 

Dis ons dertigste huweliksherdenking. My wyse man ken my deur en deur. Hy weet ek is 'n geskenkmens. Hy weet ek hou daarvan om geskenkies te ontvang, maar dat dit nog lekkerder is om te gee. Die hele proses: loop van winkel na winkel, soek die regte present vir die regte persoon en dan die vreugde wanneer die persoon dit ontvang. Vir my ook.

Daarom het hy geleer om fyn te luister en telkens kry ek presies dit wat ek so lankal wou gehad het. Nie hierdie jaar nie. Toe hy in sy etensuur uit hulle kantoorkompleks wou ry, staan daar 'n massiewe groot kontrepsie voor die hek. Niemand kan uit of in nie, want iemand is besig om die kantore se vensters te was. Hy het die hele middag lank 'n vergadering en ek is my geskenkie kwyt. Plan twee werk toe baie goed. Ek kry die pragtigste groot bos lelies, my geliefkoosde blomme.

Al wat ek eintlik sou wou hê, is om hom net EEN keer in dertig jaar met Ching Chong Cha te wen. (Klip, skêr en papier.)

"Liefie, het jy die warm kombers aangeskakel?" vra hy toe ons terugkom van die restaurant.

"Nee skat, ek het vergeet."

Dis aan die anderkant van die huis, ver van die warm gerief van die familiekamer.

"Sal jy gou gaan, of moet ek?" Hy's klaar besig om oorlog te maak teen gesiglose opponente op sy rekenaar.

"Kom ons Ching, Chong, Cha." Ek moet die punte verwerk van al die vraestelle wat so pas klaargemerk is.

Raai wie moes al weer die kombers gaan aanskakel!

Vega (wat nou finaal moed opgegee het om ooit te wen)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top