Bokomo-brekfisbrief; 15/06/08: Wat ek bedoel, Zhi

  • 0

Sovele van die waarhede wat sovele gelowe verkondig is ou ou kennis. Ek het soveel waarhede uit monde van mense gehoor wat nog nie eens van Boeddha of enige ander filosoof gehoor het nie. Mense wat in baie gevalle nie kon lees of skryf nie. Die waarhede wat Boeddha verkondig is inderdaad waarhede. Tog is daardie waarhede nie uiteindelik in ons nie? Selfs Bybelse waarhede maak sin: "Jy moet jou naaste liefhê", is ʼn praktiese voorbeeld. Dit is tog logies dat daar chaos sal heers as mens dit nie doen nie? Het ek regtig nodig om in ʼn godheid te glo, te mediteer, om dit te besef? Selfs toe ons voorouers in grotte gewoon het, was hierdie paar basiese waarhede van krag. Dit is net nooit in teorieë en geskrifte saamgevat nie. Nou kom ʼn paar manne en verkondig wat eintlik lankal in ons gene is.

Jy bevestig uiteindelik maar net wat ek al vir baie lank glo: Gelowe, filosofieë, kwasi-gelowe en sovele teorieë is niks nuuts nie. Dit is, uiteindelik deel van die mens se wese. Al wat Redders en prinse gedoen het is om dit in woorde om te sit. As iemand bv nie glo aan oorsaak en gevolg nie, dan sal hy dit baie vinnig uitvind. As iemand nie glo om te lewe ter wille van ander nie, dan sal dit hom beslis iewers inhaal. As iemand se glo nie met sy dade ooreenstem nie, dan sal mense baie gou uitvind wat uiteindelik aangaan.

Alles, Zhi, of dit nou gelowe, politiek of wat ookal is, gaan oor geld. As jy nie die note in jou hand het nie, kan jy nie vanaand eet nie. Sure, duisend jaar gelede was dit anders, maar in vandag se wêreld gaan alles oor geld. Selfs (en veral) die gelowe. Waarom doen so min van ons hedendaagse geloofsvolgelinge juis nie wat hul geskrifte sê nie? Waarom verkoop mense nie hul aardshede en deel dit aan die armes uit nie? Waarom is dit so maklik om slegs die maklike dele van gelowe te gehoorsaam of aan te hang? Ons mag nie moord pleeg nie, maar hoeveel van ons is nie skuldig aan doodslag met ons monde nie?

Daar is inderdaad maar min mense wat net sleg is. Ek weet net van Mugabe en nog ʼn paar ander. Die res van ons het meer goed as wat ons besef. Net jammer dat ons nie elke dag daarvolgens leef nie, en maar altyd ander wil te na kom op een of ander manier.

Goed om van jou te hoor, Zhi!

Groete uit Oesterland.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top