Bokomo-brekfisbrief; 15/05/2010: 'n Storie, oor "˜n koning

  • 0

Eendag was daar (oukei, lank gelede) ‘n baie goeie koning. Die koning was baie lief vir sy hele volk. Sy onderdane het hy ook altyd met respek behandel. Tog was hy streng met diegene wat die wette oortree het. Die oortreders se straf was egter altyd in pas met die graad van die oortredings wat begaan is.

Op ‘n dag verskyn daar ‘n engel aan die koning. Hy vertel vir die koning dat hy (die koning) op die eerste dag van die volgende maand, ‘n hoeveelheid van die personeel in sy paleis moet afdank. Op daardie dag moet die koning sy personeel in die koninklike saal bymekaar laat kom. Die koning moet dan soos gebruiklik sy personeel voor hom laat sit. Daar is stoele aan die linkerkant en aan die regterkant voor die troon. Die koning moet dan vir die wat aan sy linkerkant sit almal afdank, maar die aan sy regterkant kan aanbly.

Die arme koning was verbaas hieroor (omdat hy nie geweet het dat sy hoofdienaar agter sy rug konkel nie). Die man het planne gehad om die koning se heerskappy oor te neem. Hy het reeds vir hom sy eie personeel uitgekies. Die wat saam met hom stilweg die koning besteel het, was sy gunstelinge en sou sy dienaars wees. Die volk sou erge belastings moes betaal aan hierdie slinkse skelm, wanneer hy aan bewind kom.  Die koning het egter nooit besef, dat sy hoofdienaar en vertroueling, eintlik sy grootste vyand was nie. Die koning vertel toe vir hom wat die engel gespreek het en dat hy op daardie dag, die personeel op die bestemde tyd moet laat vergader en wat dan gaan gebeur.

Die skelm hoofdienaar maak toe seker dat al sy medepligtiges en aanhangers vroegtydig opdaag en aan die troon se regterkant stelling inneem. Die ander onskuldige personeel weet niks hiervan nie en gaan sit later almal aan die koning se linkerkant. Toe die koning met trompetgeskal inkom en op sy troon gaan sit, is hy onmiddellik hartseer. Die wat hy aan sy linkerkant verwag het, sit aan sy regterkant en andersom! Stilweg wonder die goeie koning of die engel nie dalk ‘n fout begaan het nie! Tog besef hy dat hy die bevel stiptelik sal moet uitvoer.

Stadig staan die hartseer koning op en klim met die paar trappies van sy troon af ondertoe. Hy let op dat die hoofdienaar ook aan sy regterkant stelling ingeneem het. Die koning lig sy hande op om te beduie dat hy gaan praat.

Skielik, is daar ‘n vreeslike gedruis van die koning se troon af! Vervaard draai die koning om en sien die engel agter sy troon staan. Die engel beveel die koning om sy uitspraak onmiddellik te lewer, net soos wat hy nou daar staan! En die verligte koning, doen dit sommer dadelik. Die wat aan sy regterkant was is nou aan sy linkerkant en andersom!

"En die laastes sal eerste wees en die eerstes laaste".

Groetnis,

Neels (Husky) Visser

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top