Bokomo-brekfisbrief; 15/05/09: Hoe om te bespaar - Hoofstuk 1

  • 0

 

 

Hou onmiddellik op om hondekos en katkos te koop. Kollekteer al die vetste rondloperhonde en -katte in jou buurt. Hou dadelik op om vleis vir die vrieskas te koop en skakel hom af. Kyk hoeveel honde en katte jy gekollekteer het en werk dan uit hoe lank jy het voordat jy vegetaries gaan draai. Sou vegetaries nie vir jou 'n opsie wees nie, moet jy op die uitkyk bly vir nog vet rondloperhonde en -katte. Begin by die maerste hond of kat om ooglopende redes. (Onthou, jy koop nie meer hondekos en katkos nie.)

Kollekteer verlepte perskes by jou naaste mark. Verkoop jou kar en gaan na 'n liefdadigheidsplek vir diere en skaf solank vir jou 'n vet perd of donkie aan. Moenie perdekos koop nie, maar laat hom in die tuin loop. Onthou, dit bespaar uitgawes op tuindienste en petrol. As al die honde en katte opgeëet is, sal jy maar die perd moet slag. Koop solank vir jou tekkies want jy moet nog steeds by die werk uitkom. Siende dat die perd nie meer daar is nie, laat die gras maar groei, want muise en slange is ook eetbaar. Teen daardie tyd het jy nie meer 'n keuse nie, en sal vegetaries die enigste uitweg wees.

Kook marog van die gras. Sou vegetaries nog steeds nie 'n opsie wees nie, moet jy begin uitkyk vir die vetste rondlopers en drentelaars in jou gebied. Troos jou daaraan dat jy gaan bespaar deur nie meer buurtwag hoef te betaal nie en jou buurt 'n veiliger gebied gaan maak.

Plant dagga sodat jy steeds kan rook en sodat jy nie jou Tassies so baie gaan mis nie. Tassies is duur. As die waterkar nie 'n opsie is nie, stook jou eie mampoer. Gebruik die perskes wat jy gekollekteer het. As jy nie 'n stookketel het nie, haal jou geiser van die dak af en omskep hom in 'n ketel. Troos jou daaraan dat jou elektrisiteitsrekening nou baie laer gaan wees en jy nie meer hoef seep te koop nie.

Maya

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top