Dis iets wat groot manne in die wêreld van ouds gemesmeraais het en wat die meerderheid manne huidig nog dronkslaan.
Ons hoor oubaas Sigmund Freud se verwondering toe hy verklaar: "The great question that has never been answered, and which I have not yet been able to answer despite my thirty years of research into the feminine soul, is: What does a woman want"?
Ons stap terug en luister bv vir arme ou Paulus wat aan die Efesiërs skryf dat die verhouding tussen man en vrou 'n "diep geheim" is. (6: 32 (a))
Inderdaad. Wat wil 'n vrou hê en wat is so "diep" daaraan?
Met die ontdekking van Australopithecus Sediba (ma 30) wat met kind (12) en al in 'n gat gevind is, kan jy miskien die afleiding maak dat die geheim al van oertyd saam met ons kom en aanleiding gegee het tot seker die eerste wraakdaad.
Daar moes tog 'n 'man' iewers gewees het wat waarskynlik te veel onder 'n maroela boom gesit, sy grotlike pligte gruwelik verwaarloos en sodoende sy 'wederhelf' tot waansin gedryf het. Die uiteinde, sy vat die kind en spring in 'n diep donker gat af.
Die maroela sou soos ander van sy soort aanleiding gegee het tot bv. 'n sekere wanfunksie, en sou mev A Sediba seer sekerlik Homo Erectus, wat eers baie jare later so opdaag, verkies het, of hoe?
Smaak my die weergawe hierbo is buite orde en dat dr Berger ook so sou dink, want hy klassifiseer mev Sediba as Australopithecus (aapagtig) en nie as Homo (mens) nie. Sou gewerk het as hy hulle as Australopithecus Homo kon eien, ja.
Ja, dan sou ons die vrou se geheim ver kon terug voer en ek sou ek myself daarop kon roem dat ek 'n oeroue geheim ontrafel het.
Die geheim. Ek het vanmelewe ontdek dat jy jou vrou nie moet probeer verstaan nie (beslis nie wanneer jy te veel maroelasap agter die blad het nie), maar dat jy haar net moet liefhê, ten alle tye.
Dan neef, val al die ander dingetjies netjies in plek.
Groetnis (en sterkte ),
Raed-na-Gael


