Bokomo-brekfisbrief; 15/02/2011: Haka en gesange by rugby

  • 0

Geagte Webvoet

Iets van ’n heel ander aard as godsdiens en politiek. Ek het onlangs in ’n brief aan een van die Afrikaanse koerante ’n opinie oor twee nie-rugbysake uitgespreek, maar omdat ek blykbaar die status van persona non grate in daardie kringe bereik het, vanweë ander uitgesproke opinies oor die politiek en regeerders van die dag, twyfel ek of ek hond haaraf sal maak.

Ons staan aan die begin van ’n propvol rugby-seisoen waarna baie uitgesien word. As rugbyliefhebber wat die luukse geniet van sportkanale op TV, sal dit weereens onmoontlik wees om nie gereeld ’n slukkie “medikasie” vir die oordosis te neem nie.

Wanneer die Drienasies en Wêreldbeker later vanjaar aan die beurt kom is daar egter twee sake wat niks met rugby te doen het nie, maar wat my weer soos vantevore gaan irriteer en waarvoor ek nie geskikte “medikasie” het nie.

Die haka …

Verlede jaar is die Australiese vroue-rugbyspan van disrespek beskuldig omdat hulle nie stilgestaan en toekyk het hoe die haka deur hulle Nieu-Seelandse teenstanders uitgevoer word nie. Wat die Aussie-vroue in die toekoms gaan doen weet ek nie, maar dit sal jammer wees as hulle hul wel hierdeur gaan laat intimideer.

Dit is slegs die All Blacks en een of twee lande uit die Suidsee wat primitiewe danse voor ’n groot sportbyeenkoms doen. Die res van die wêreld sing hulle volksliedere en klaar. Die haka is ’n ritueel wat dateer uit die Middeleeue of selfs vroeër. Dit het ’n barbaarse inslag en is lank reeds ’n irritasie vir rugby-ondersteuners wat wil hê die wedstryd moet begin. Die haka hoort in kultuurkonserte, nie op internasionale sportvelde nie. Skaf dit af. Groot asseblief.

Volksliedere ...

Ek het niks teen nasietrots nie, maar alles het ’n plek en tyd. Net soos “medikasie” kan ’n oordosis daarvan trefkrag verloor of selfs nadelige gevolge hê. Met die Sesnasies, Drienasies en internasionale toere word daar net te veel van die temerige gesange gehoor. Beperk die volksliedere tot wêreldbekerwedstryde, maar nie by die menige internasionale wedstryde wat tussenin plaasvind nie. Asseblief!

Koos Smit

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top