Daar is drie woorde wat elke kind vrees. Dis drie woorde wat die einde wat sy of haar kinderlike onskuld van speel en lag beteken - 'n vonnis wat elke jaar wag.
"Terug skool toe."
En boeta, van vergeet is daar geen kans nie, want sodra die shops ná Krismis leeg loop, is back to school-advertensies mos al wat 'n platsakouer weer sy of haar beursie laat uithaal. Dan is 'n man se hele vakansie sommer ge-spoil, want jy kan nie jou gat draai nie, dan word jy herinner aan daai vonnis wat in Januarie wag.
Maar wat is dan so erg aan skool? Dis mos 'n jol. Jy en jou tjommies hoef julle mos nie te steur aan 'n onderwyser nie. Veral hier van gr 10 af wéét jy mos hoe die wêreld werk, so jy bang niks nie. Daai tyd toe ek op skool was, was dit ook maar so. Maar daai tyd wás 'n man nog bang vir sy onnies. Wel, sommige van hulle in elk geval.
Want daai tyd was daar nagevolge as 'n man nie bang genoeg was nie en hy loop jaag nonsies aan. Kom ons sê maar die woorde "opvoeder" en "opfoeter" het destyds meer in gemeen gehad as wat hulle deesdae het.
En as jy terugkom uit die office en jou gat brand asof die hoof jou met 'n blowtorch bygekom het eerder as die nederige rottang - die een wat jy nogal self uit die bondel moes kies, al lyk almal die blerrie selfde - gaan sit jy nie in 'n hoekie en huil omdat jy nou sielkundig gekrenk is of iets nie, jy gaan wys met trots vir jou tjommies waar die hale lê sodat hulle kan sien jy vat jou pak soos 'n man.
Nog nooit weer het soveel straight ouens saam ge-"oe" en ge-"aah" oor 'n ander man se agterwêreld nie. Oukei, dit was nooit die hoogtepunt van jou dag nie, maar dit was darem ook nie die einde van die wêreld nie.
Dis ook nie hoekom ek so 'n gly gevang het in die woorde "terug skool toe" nie.
Ek was nie bang vir 'n onnie met 'n lat nie. Behalwe vir by die trigger happy weirdo wat houtwerk gegee het, het ek after all meestal my lyfstraf verdien. Nee, wat my bang gemaak het, was daai rampokker-leerders wat van almal 'n teiken wil maak.
En nou dat die lat iets van die verlede is, kan ek nie help om te wonder of dít die rede is dat daar nou soveel meer rampokkers is as op my dag nie. Want sonder 'n sambok om voor bang te wees, word 'n tienerlaaitie mos maklik 'n voorbok.
Stadsjaap


