Bokomo-brekfisbrief; 14/10/08: Daniel Hugo en Joan Hambidge

  • 0

 

 

Daniel Hugo voer op Leeskring 'n onderhoud met Joan Hambidge, waar hul haar nuwe boeke bespreek. Ek het ongelukkig net enkele van die besprekings gehoor en twee gedigte van Joan. Onmiddelik het die behoefte ontstaan om hierdie onderhoud weer te hoor en dit kan wel op RSG se webwerf geluister word.

Ek weet ek moet weet wat die Podgooi goed is, maar ek sal dit nog later uitvind. Wat wel ter sake is, is die inhoudelike waarde van die onderhoud wat net tot die groei van Afrikaans kan lei, net tot enkele luisteraars se ore gekom het.

So ʼn Podgooi-funksie moet op LitNet kom waar ons na dié tipe van goed kan luister. Ons praat altyd oor die groei van en in Afrikaans, maar ons maak nie die stemme wat vandag se Afrikaans maak, in ons LitNet lees en luister oop nie. Litnet is ons onafhanklike werf, waar ons geen steen onaangeroer mag laat om Afrikaans met alles wat ons het, te bevorder nie.

Hoeveel kere het Hugo skitterende onderhoude gevoer, en dit is iewers in 'n radio-argief verlore, met al die klanke, kuns en digterlike verrykings wat daarin opgevang is? Kuns en ons skrywers se werke mag nie sterf nie, dit moet klankhelder in ons ore afgestof word.

Daardie onderhoude moet hier op LitNet iewers vasgeverf word sodat ons dit op ons skerms kan sien en daarna kan luister. Joan se onderhoud was ryk Afrikaans, dit was wonderlike Afrikaans, lewend, weereens 'n bewys waarom ons taal beminlik is. Afrikaans op kundige tonge is 'n taal van liefde en die self, 'n taal wat intellek stimuleer, 'n taal wat ander se andersheid kan omhels.

Hugo, natuurlik, is 'n meester in radiowerk. Hugo kan 'n kunstenaar van 'n droë rangskikking ontblom in iets rykliks, iemand met geure en kleure, iemand in smaak drapeer. Hugo het die vermoë om die groei wat in skrywers plaasgevind het, in behoeftige hormone te omvorm.

Sy werk veral moet saam met ander in een of ander podgooi of wat die naam ookal is, hier op LitNet verewig word, ter wille van Afrikaans.

Ons kan seker dieselfde vir ons Afrikaanse musiekskrywers doen.

Pierre van Niekerk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top