Die onlangse skietery in Durban het my weer laat besef dat die beskawingslaag by Homo sapiens baie dun is.
Almal weet dat daar ʼn gestryery oor die grootte van die primêre geslagsorgaan van ʼn man was, met die uiteindelike gevolg dat drie mans dood is en twee in die hospitaal beland het, met moordklagtes teen die antagoniste.
In paleo-psigologie, wat ʼn onderafdeling van paleontologie is, is oor baie jare verskeie waarnemings gemaak wat tot interessante gevolgtrekkings gelei het.
Ek gaan kortliks die gevolgtrekkings aanstip wat te doen het met die grootte en effek van liggaamsdele. Let wel, ek praat van liggaamsdele, nie net geslagsorgane nie.
Ek vergelyk die drie groot primaat-spesies wat die naaste verwant is aan mekaar.
Gorillas (Gorilla gorilla) het die kleinste testikels, omdat dit ʼn metaboliese las is om groot testikels te hê as jy die enigste is wat kan paar en met kleineres kan regkom. Die silwerrug-mannetjies is die enigste wat paar in ʼn trop en die trop met ʼn ysterhand beheer. Hy hoef nie ʼn lover te wees nie, net ʼn fighter, daarom is hy ook 50% groter as wyfies en intimideer almal.
Chimps (Pan troglodytes) het ʼn ander sosiale sisteem en alhoewel daar ʼn leier in die trop is, is daar vrye paring tussen alle mannetjies en wyfies. By die Bonobo-subspesie met ʼn matriargale sisteem, word groot geskille met seks besleg. Evolusionêr het die proses tot gevolg gehad dat die testikels van chimps 10 keer groter is as die van gorillas. Die implikasie is dat die mannetjie wat die meeste semen produseer, die grootste nageslag sal hê. Onthou, dit is nie ʼn bewustelike seleksie vir groter testikels nie, die resultaat is net dat die wat groter is die meeste nageslag sal hê en hulle gene sal oorgaan na die volgende geslag. Die liggaamsgrootte van die geslagte is ook naby mekaar.
Die mens (Homo sapiens) se testikelgrootte lê tussen dié van gorillas en chimps, wat net mooi impliseer dat daar iewers in die voorgeslagte van die mens beide promiskuïteit was en ook dominansie deur sekere manlike lede van die groep. Mans is ook tussen 10% en 15% groter as vroue, wat dié gevolgtrekking bevestig. Ontrouheid in seksuele aangeleenthede (ook by getroudes) is ook deel van die mens; kyk maar na beide geslagte se advertensies in koerante.
Wat penisgrootte aan betref, trek gorillas weer aan die kortste (geen woordspeling bedoel) ent, met die mens wat die grootste penis van die drie primate het. Dit dui net op een ding: dat daar evolusionêre seleksie vir groter penisse was. Die oermense het nog nie klere gedra nie en hulle moes mekaar gesien en bekyk het. Dis deel van die wet van onbedoelde gevolge wat op regoploop van toepassing is.
Die mens is die enigste soogdier wat permanent regop loop en in die proses het ons die baculum-beentjie verloor. Dis die beentjie wat die penis in posisie hou by ander soogdiere wat nie hande het nie. Geen man wil permanent ʼn skyn-ereksie hê nie, en geen vrou wil ʼn permanente ereksie sien nie. Soldate en koshuisbrakke bekyk mekaar ook maar in die stort. Dit impliseer ook dat oermens-vroue bewus was van penisgroottes en selfs moderne vroue skinder onderling daarvan. Dit het uitgekom in radiopraatjies deur seksuoloë.
Dit het uiteindelik sy beslag in die psige van die man gekry en dis dus niks snaaks dat daar ʼn skietery plaasgevind het. Die oerwet was oortree om ʼn ander man se ‘wapen' te verkleineer.
Sekondêre geslagsorgane soos die borste by die vrou (asook boude) was ook aan seksuele seleksie onderhewig, net soos die penis van die man. Dink maar aan, Saartjie Baartman en die Victoriaanse modes waar boesels gedra is om die boude groter te laat lyk.
Die grootte van die bors het niks te make met die hoeveelheid melk wat geproduseer word nie. As dit wel die geval was, sou gorillas en chimps ook groot borste gehad het, wat hoegenaamd glad nie die geval is nie. Daar moes dus ʼn voordeel aan groter borste en penisse gewees het, want dis ʼn geweldige metaboliese las vir die liggaam. Die voordeel is beter vertoning met gepaardgaande byvoordele soos kos en aandag. Vir mans het groot borste mettertyd ʼn groter seksuele betekenis verkry. "Beauty is in the eye of the beholder".
Wyle Minister Hendrik Schoeman het die grappie vertel van drie vroue wat vir werk aansoek doen, al drie baie bekwaam met goeie getuigskrifte. Wie het die werk gekry? Die een met die groot tieties.
Tersiêre liggaamsdele soos die enkels, nek, pols en elmboog van ʼn vrou kan ook sensueel aangewend word in uitlokking. Onthou, sensualiteit is net een treetjie weg van seksualiteit. Kuise vroue wys nie lae hals of enkels nie en trek klere aan wat die skouer en arm tot by die hand bedek.
Die laaste woord oor geslagsorgane is nog nie gespreek nie.
Wenk: Moet nooit ʼn los aanmerking maak oor iemand se geslagsorgane nie, dit kan jou suur bekom.
Excelsior!
Jan Viljoen


