Bokomo-brekfisbrief; 14/07/09: Statusbewustheid en Afrikaanssprekendes se aksente

  • 0

 

 

'n Engelsman vra my nou die aand of ek aan 'n Afrikaanssprekende se aksent kan agterkom wat sy status is. Ek sou, as ek die ou reg verstaan het, eerder die woord status met klas omruil.

'n Bietjie onkant gevang, sê ek dat ek nie dink dit het iets met 'n mens se aksent te doen nie. Ek verduidelik toe vir hom die pragtige aksent wat die Namakwalanders het, en dat ons ander gebiede ook het waar die mense hul eie aksent het, en dat dit dus nie so maklik is om net na aksent te verwys nie.

Nee, sê ek vir hom, ek dink dis meer die manier hoe mense praat wat jou dit laat agterkom. Hy verstaan toe ek bedoel grammatikaal korrekte Afrikaans.

Weer moet ek vir hom sê dis nie wat ek bedoel nie. Ek probeer toe verduidelik ek dink dit het iets te doen met watter woorde sommige mense sal gebruik. Jy sal byvoorbeeld nie in 'n kerkraadsvergadering "poep" sê nie, "for lack of a better example".

Ek vra later 'n ander Afrikaanssprekende wat hulle dink die antwoord is.

Nee, vertel hulle, die een of ander familielid van hulle het 'n huis in Silverlakes in Pretoria gekoop, (Ek ken nie Pretoria eintlik nie, Pretoria is maar Pretoria. Ek neem egter aan dit is of was nogal netjies) goue krane in die badkamers ingesit, 'n groot 4 x 4 gekoop en sien nou neer of hulle wat in Centurion bly.

Nee, sê ek, wat 'n mens het, bepaal nie jou status of klas nie, en ek voel as iemand 'n groot huis en groot kar moet hê om hulle klas of status te bepaal, het hulle in elk geval voor die tyd geen klas of status gehad nie.

Soos 'n goeie vriend van my eendag sê na ons 'n ou met 'n splinternuwe BMW sien wat sulke wiele opgesit het wat ten hemele skree: "Ai, geld kan maar nie klas koop nie."

Ek weet dus nog steeds nie eintlik wat die antwoord is nie.

Andries Wolmarans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top