Ek is 'n bekeerde waar dit die vrou aan betref. Hulle is my godsdiens. Herre, is daar op hierdie aarde iets mooier? Wel, 'n Boeing 747 wat opstyg kom naby ... naaaaa, ek lieg, niks kom by 'n vrou nie. Gaan dit deur as afgodediens? Dan sien ek uit na die verdoemenis en die ewige dood of paradys.
So staan ek vanoggend by Wild Oats en oesters oopmaak met Ferdie (sy is 'n vrou, beeldskoon, ver bo my bereik - damn! sy is waaragtig mooi! - maar ongelukkig getroud en twee dekades ouer) wat staan en toekyk. Ferdie verkoop organiese olywe en die beste Koedoe-salami op aarde. En toe glip daardie mes. Reg in my hand in. Nie omdat ek onhandig noodwendig is nie maar bloot omdat ek net weereens iets mooier as 'n mens gesien het.
Sy het bene tot kort duskant haar kieliebakke. Mens sien haar nie, jy beleef haar. Sommer van ver af al. En boonop is hulle (dis nou die twee bene) in denim getooi. Is daar iets mooier as 'n denim (of leer) wat styf span om die noodsaaklikhede? Pas 'n denim regtig op 'n ander plek? Sy het hare wat so kartel in die wind, en dan het sy sowaar die vermetelheid om daardie maanhare gereeld weg te kam uit die oë. Met sulke lang vingers. Nie met nagemaakte naels nie. Haar lippe het net so 'n ligte skakering van rooi, en ek weet steeds nie of dit oorlogsverf was nie. Haar oë het die kleur van die Blou Dam as Sy op haar bedonnerdste (jammer vir die vloek) is. En rondom einste oge is die lagplooie wat wys dat hierdie wonderwerk weet hoe om te lag. Jy weet, soms het 'n vrou 'n manier om haar nek op 'n sekere manier te beweeg. So half halsstarrig, hardegat, speels. En so beweeg jy af en jy weeg die dinge, die Enkels: Hulle baan die weg na die tone, of hoe? En terug tot by die mond. En neus: wipgat. Nou vleuels, wat weereens dui dat hierdie meisiekind nie sommer so aangepak moet word nie. Met so 'n amperste kneukel waar die brug moet wees. En die lippe is nie dun of dik nie, hulle is iets tussenin, want 'n vrou met dun lippies is gewoonlik so bedonnerd soos 'n pofadder as jy hom steur in sy winterslapie.
Maar dis die hande, die hande is wat 'n vrou eenvoudig onderskei van alle ander wesens. 'n Vrou se hande beweeg eenvoudig anders. Hulle het net daardie iets hoe hulle vat, hanteer of beweeg. 'n Man vat mos net, gryp amper, maar 'n vrou vat mos half versigtig. Saggies. Kyk bietjie na die duim as 'n vrou vat. Dis net anders as enige ander wese. Kyk na, ag ek gaan nou te veel detail verklap hierso en dit gaan 'n ewigheid duur. Kyk na die kuiltjies hier agter by die lae rug ... Herre ... wag, nou wil ek al weer te ver gaan ...
En nou kom die belangrikste: Haar wegstap. Ferdie het my later tot my sinne teruggeroep met 'n: "Close your mouth you fool, people might think you're staring" en dis toe ek net moes weet wie hierdie Wonder is wat voor my verbygesweef het. Verskoon my vloek (mens mag nie vloek teenoor 'n vrou nie), maar ek
Ek het minstens nou haar selnommer en sy het nie 'n man met knoppe nie, so, wie weet … ? Ferdie het my "predicament" gadegeslaan en my van 'n ewige wonder verlos (daai nommer kos my 'n bleddie sak vol mossels en nog ander goete wat ek nie mag uithaal uit die Blou Dam nie!).
Ek het die wonderlike voorreg om vrouens as my beste vriende te noem. Van die swart maanhaar met die ligblou oë wie se hanne te hard met ysters werk (Herre, as jy hare uit die oe wegkam wil sien moet jy haar beskou!!!!) (en ja, dis my eie bleddie onnoselheid dat ek hierdie WONDER nie waardeer het nie) tot die gladhaar wat haar kort windgat kapsel windgat agteroorgooi. En die man of wie ook al wat die vrouens in my lewe selfs net skeef aankyk gaan net een rigting en dit is grond toe. Met hul gesigte eerste. In 'n baie ander vorm as wat dit normaalweg lyk. Of kom ons praat sommer suiwer Afrikaans: Die persoon wat selfs net lelik kyk na 'n vrou in my lewe gaan nie more die son se strale gewaar nie.
My wonderlike Moeder is 'n vrou. My ongelooflik mooi Wonder van 'n dogter, die mooiste, mooiste skepsel wat ooit hierdie aarde bewandel het of ooit sal bewandel is 'n vrou. Daar was nog nooit een soos sy nie en daar sal ook nooit een soos sy wees nie. Danielle se geringste wens is vir my 'n bevel, en ek is nie eens skaam om as slaaf gesien te word nie.
Wat is hierdie magiese krag wat julle oor ons het? Waarom word oorloë en vredes agv julle gepleeg? Ek weet nie en ek gee regtig nie om nie. Wat ek wel weet is dat die vrou die toppunt van evolusie is en altyd sal wees. Is dit dalk die rede waarom die oorspronklike godheid vroulik was? En dalkies sal ek gelowig word as God 'n vrou is, wie weet? Het die mense dalkies tiene van duisende jare gelede nie beter geweet as ons ploeters nie?
Wat die deursnee manlike persoon nie besef nie is hoe wonderlik julle spesie inderdaad is. Sonder die vrou sal lewe inderdaad nie sin hê nie, sal dit? Julle voltooi nie die man nie, die man is niks sonder julle nie. Dis dalk tyd dat ons manne dit begin besef en daarvolgens optree, is dit nie? Nee, jy hoef nie te antwoord nie, ek het reeds die antwoord.
'n Man is 'n bok, en 'n bok is op sy beste 'n bliksem. Sit 'n baadjie van kennis of geleerdheid om hom en hy dink die aarde behoort aan hom. Donnerse gekke!
Groete uit Oesterland.
oester
NS Hoe weet jy wie die liefste vir jou is? Sit jou hond en jou vrou vir 'n uur in jou kar se kattebak en kyk wie is dan die blyste om jou te sien as jy die kattebak oopmaak? (lol!) My boerboele is, tewens, albei vroulik en ek wil dit nie anners hê nie. Selfs in die "mindere" spesies


