Vrydag vertel ’n man my dat ek sy planeet besoedel. Dit breek sy hart om “groen mense” te sien rook. Ek word daar en dan sommer gedruk om die tweede gebod te resiteer. Julle sien, om myself lief te he is waar my probleme begin. Ek vra hom wat hy doen en dit kom uit dat hy werkloos is maar in diens van die Here. En daar sit ek by die Nasionale Boom Ekspo omring deur my kratte vol boomsaailinge en bewe van die woede. Ek bly eers ordentlik. Ek kyk hoeveel kamele ek kan eet voor my maag begin te draai.
“Dit is as gevolg van selfsugtige mense soos julle dat die land se waterweë vol stompies is.”
Ek wys die werklose preekafsteker daarop dat my handgerolde twakkies nie eers oor filters beskik nie... Hy stu hardnekkig voort. Kyk, as siele wen perde inbreek was is hierdie man ’n rodeo koning.
“Luister vriend, jy’t nie ’n benul van wat my stryd behels nie. Kry jou ry, asseblief!”
’n Pragtige Saterdag ontplooi. Twee geesdriftige tannies in die botaniese tuin pak hulle vroeë oggend oefensessie met deftige loopstokke so asof hulle besig is om die hoogste stapel klippe in Afrika uit te styg. Julle weet waarvan ek praat. Daardie illusie wat jy jouself soms toelaat dat die kontinent onder jou voete is en jy tuur in al jou volmag oor ’n verowerde stuk aarde. Ek dink. Ek dink daaraan om die tannies onder my vlerk te neem en te wys hoe om hierdie koppies te klim met ’n piksteel. Ja, ’n piksteel, want hierdie is Gauteng en op ’n goeie dag krap die tsotsi's hier jou oorskot tussen hulle tande uit met daardie koolstofvesel-kierietjie van jou.
Ewe verleë kom my agtergeblewe pa weer by die stalletjie aangesuiker met ’n juweel. Dit behels die knaap wat gister heeldag so geraas het met sy kettingsaag. Natuurlik het ons onder mekaar goed weggelê in hierdie lawaaierige man. Sy hele houding het gestink. Die woorde op die agterkant van sy veiligheidspakkie som alles mooi op: “ My chainsaw is Stihl bigger than yours.” Sy selfvoldane stappie het ons ook nie juis aangestaan nie, deksels man, wat het hy verwag? Soms is dit egter goed om met jou oë te luister. Skielik staan jy ten aanskoue van ’n perfekte uil wat die man gister met sy kettingsaag uit ’n stuk stomp gekerf het en jou tong van gister plak soos ’n oormatig gesoute stuk biltong vandag aan jou verhemelte vas. Ja geliefdes, die laaste houtuil hoe altyd die duidelikste. Dadelik pak almal die hogere Engels uit om die man van nader te leer ken. Bietjie later bel iemand hom. Ons verneem meteens hy’t ’n boerin tussen die lakens en sy handhaaf die taalbeleid. Van daar af is elke woord onder ons Afrikaans. Hy’s ’n vlot tweetalige Vrystater nogal. Nou toe nou, ongeag al die nietige gekibbel of ’n mens nog in Afrikaans kan poep of nie leef die taalsprekers. Genuine! Net nog so effetjie later val daar tot ’n blinkoog madam by die man se stalletjie in en poog hom in Afrikaans vertel dat sy ook ’n kettingsaag terdeë geniet...
Laatmiddag loop ons kar toe. Daar is ’n ooraanbod van BBB’s in die parkeerarea. Die skuldbulte is welbekend vir hierdie ikoniese cliché. Miskien moet hierdie oorkonsentrasie Brons Busty Blondines die anderkant van die mynhoop as tuiste oorweeg. Of miskien moet ek my woorde tel voor my neus in hulle Mensa lidmaatskap gevryf word.
Geen goeie dag kan egter eindig vir enige pleb sonder ’n besoek aan die drankwinkel nie. En toustaan veral sit jou gou weer op jou plek. Voor my plak ’n meisiekind ’n liter brandewyn op die toonbank neer en haar metgesel in ’n help-my-sterk-lyk-hempie skuifel agterna met die pakkie paper cups, sigarette en 4 liters Coke. Ek wag rustig my beurt af, oorstelp dat daar nog mense soos ek is. Ek betaal vir my en die ou kêrel se ses biere en wys my keuse om ’n plastieksakkie van die hand.
Adriaan


