Onlangs stap ek daar deur rakke van Exclusive Books van Menlyn. Was op soek na 'n boek wat vir my die eerlike agtergrond kan verduidelik van die herkoms en oorsake van die huidige wêreldwye finansiële krisis. Dit aangesien sommige so ver gaan deur dit as ʼn enorme ramp te beskryf wat omtrent kan lei tot ondergang van die wêreld soos ons dit ken. Dus is dit seker belangrik om dit effens te verstaan.
Maar by die sake-rakke is al wat ek mag sien steeds die boeke wat jou vertel hoe om ryk te raak. Boeke van CEO's van plekke soos General Motors wat "tips" gee oor sukses. Dan werke van Suzi Ormond met kitsresepte oor geldhantering, MBA for Dummies, ens, maar totaal niks wat oor die sg "Credit Crunch" handel nie. Hoe is dit moontlik? Die wêreld kom feitlik tot ʼn einde maar niemand weet presies waarom nie. Die finansiële tydskrifte het wel artikeltjies hier-en-daar wat dit bietjie analiseer, maar mense is te bang om volledige boeke daaroor te skryf.
Skielik kom samesweringsteorieë in my kop na vore. Dalk boikot die groot uitgewers boeke wat dit te eerlik op die been oopvlek. Hulle redeneer waarskynlik dat dit geheim moet bly, anders dra dit by tot die volledige val van die wêreldekonomie. Ek weet nie.
My vraag is of die boeke soos GM se CEO se opinies en die gevestigde opvattings oor bankwese en MBA-wyshede nie gelei het tot die krisis wat ons tans beleef nie. Al die boeke van die prekredietkrisisera behoort eintlik van die rakke verwyder te word. Mens kan selfs motiveer dat hulle verbrand moet word.
Dis soos ʼn biografiese boek oor Carl Niehaus wat hom voorheen uitgebeeld het as die edele kampvegter tydens die struggle. En na die onlangse onthullings wonder mens of enige iets wat hy gesê of gedoen het, gebaseer was op waarheid, eerlikheid of opregtheid. Dus behoort boekwinkels so ʼn biografie eintlik van die rak af te haal.
Is boekwinkels slegs (soos die bankiers wat die kredietkrisis veroorsaak het) gerig op geldmaak ongeag die konsekwensies?
Kommensêns


