Vergeet van die debat rondom tolgelde, tolpaaie en die hele pad-warboel in Gauteng. Die vraag is of die hele ontwikkeling moontlik tot ’n nuwe demografie in Pretoria kan lei.
Sal jong getroude paartjies met nuwe oë kyk na woonbuurte nader aan die middestad en in die Moot-gebiede. Ons het in Julie getrek, en my vrou het opgemerk dat ons ten minste twee tolhekke (op die N4) nou vryspring net om in Pretoria rond te ry.
Indien ’n mens na die jongste konstruksie-ontwikkelinge in Hatfield kyk, kan dit waarskynlik ’n wenner word sou daar nuwe migrasie plaasvind. Daar is spog-woonstelle, die Gautrein is bykans reg om uit Pretoria te vertrek en mense krap kop oor die tolgelde en hul beursies. En wit en swart leef vreedsaam in die gebied.
Dit sou sin maak om in ’n gebied soos Capitalpark, Gezina, Waverley, Clydesdale of Villiera nes op te skop. Want indien ’n mens na die tolhek-kaart kyk, lyk dit of ’n rit tussen Centurion en Pretoria, of tussen woongebiede oos van Hans Strijdomweg op die N4 en Pretoria ’n duur sakie kan word.
Die vraag is egter of tolpaaie nodig is. Veral gegewe dat SANRAL nuwe kantore skuins oorkant die Watermeyerstraat-tolhek op die N4 oprig. Dit is letterlik sout in die wonde vryf.
Gegewe die hoeveelheid geld wat in die buiteland geleen is vir die projek, wonder ’n mens waar al ons randjies en sentjies verdwyn het.
Yuri


