Waar hierdie brief sy oorsprong het, weet ek nie. Ek het hom van uit die VSA gekry.
Of mens ‘n christen is of nie, maak nie saak nie, want as elkeen iets begin doen dan sal die resultate ons verbaas. In ons woonbuurt het die inwoners begin om strate te patrolleer = met die oog daarop om onwelkom besoekers uit te hou - en om onnet erwe, rommel op sypaadjies te rapporteer en die alewig onooglike advertensies op kragpale en stoptekens te verwyder. Reeds lyk ons woonbuurt stukke beter. Nog nie so goed soos kan nie, maar beter. En ek glo die aksies gaan nou begin momentum kry soda tons woonbuurt voor end van die jaar ‘n plesier is om in te woon.
Terloops, ek vermoed die Peet versprei Bybels wêreld oor.
Jakkie
Die gedagtes deel ek sommer net met n paar goeie vriende vandag. Afgelope paar dae druk dit swaar op my gemoed.
Groete en seën,
Peet
Dit was vroeg-oggend voor sonsopkoms toe die Here my na die hekse in die noorde van Ghana gestuur het. Daar was verskeie duidelike opdragte in verband met die ekspedisie en een daarvan was dat ons nie negatiewe gedagtes moes toelaat nie.
Dit was nogal ‘n moeilike een want die rit heen en terug sou meer as dertig uur duur, daar was erge verkeersknope, ek moes grootste deel van twee nagte wakker bly en bestuur, ons moes ‘n Moslem hoofman na Jesus lei en nog heelwat meer voor ons selfs maar by die hekse kon uitkom! (Lees daaroor in my boek Africa's Hunger for Jesus).
Terugskouend kon ek duidelik sien waarom ons niks negatiefs moes kwytraak nie, hoewel daar baie goeie redes daartoe was. Dit sou gelei het tot frustrasie, woede, vrees en ... uiteindelik: ongeloof ! Dan sou ons nooit deurgedruk en God se magtige plan tot redding van daardie vroue uitgevoer het nie.
Kyk wat met Israel gebeur het as gevolg van die negatiewe verslae van daardie tien bevreesde, ongelowige verspieders! Hulle het n hele geslag in die woestyn laat sterwe - hulle eie vaders, grootvaders, moeders en oumas.
Pampoen, ons "Bybelkar" se lisensie het einde Januarie verval. Ek was met die verloop van vyf dae altesaam vyf keer by een of die ander van twee lisensiekantore in Johannesburg om dit te hernu voor ek geslaag het.
Elke keer was die problem: "Jammer. Die lyne is af!" ...en partykeer het hulle nie eers ‘jammer' gesê nie.
Ervarings soos die kan mens nogal negatief stem, want dit bring skielik onaangename en skokkende dinge na vore wat jy elders gesien en gehoor het - byvoorbeeld - dat riool verwerkings aanlegte op meeste plekke in Suid-Afrika nie reg werk of bestuur word nie en dat afval dan in spruite en riviere gestort word.
Daar was ook die onlangse TV nuus item waar ‘n amptenaar onder druk erken het dat hy nie kan verantwoord wat met meer as n biljoen Rand gebeur het wat aan kontrakteurs uitbetaal is sonder die nodige dokumentêre magtiging nie.
Daar is ook berigte oor een na die ander gru-moord in die koerante en foto's van die skok-toestand van sommige paaie wat mens ontstem. Stygende korrupsie, kos en dienste wat al duurder word en die aanhoudende gepeuter met die name van dorpe en stede is van die ander "vrede-diewe".
Toe ek so gesukkel het met Pampoen se lisensie het ek weer baie oefening gekry om die vrede van God in my hart bewaar te laat bly.
Ek het al dikwels gefaal, maar as ek my bloeddruk voel styg, pas ek hierdie reel toe wat ek sterk kan aanbeveel by mede-gelowiges. Ek begin bid en vra: "Here, wat is hier aan die gang? Dis tog nie moontlik of redelik nie. Hoe moet ek hierop reageer?"
Daar het baie dinge deur my kop gegaan wat moontlik van die Here was - ander was seker my eie gedagtes, maar daar is EEN ding wat ek graag vandag wil deel as jy my dit sal vergun: Ek het skielik besef hoe absurd dit is dat ons jou waarlikwaar kan verwag dat n politieke party en sy amptenare alles wat in die land verkeerd is, op eie houtjie sonder die Here se hulp gaan regkry.
Ons sal wag tot die perde horings kry soos die oumense sal sê en intussen sal dinge net slegter gaan. Al vervulling wat ons dan sal kry as alles tot niet is en ons daarmee saam, is om te kan sê: "I told you so!"
Ons wat verkondig dat gelowige kinders van die Here deur Jesus toegang tot Almagtige Vader het - moet ons nie daardie toegang gebruik om die slegte toestand van sake voor Hom te bring vir genade, wysheid en te vra wat ONS moet doen nie?
Ek kan hierop uitbrei, maar laat dit liewer aan jou oor om jou gedagtes by te voeg.
Op ‘n keer het ek vir my sendeling kinders in Beira wat vyf mediese klinieke en twee weeshuise bestuur het gaan kuier en gaan help om mense daar van Jesus te help vertel.
Hulle kla toe oor die lelike slaggate in een van die hoofpaaie langs die see. Daar was n hele paar en die remmerke en spore op die teer het gewys waar jy moet ry om hulle te mis. Dis baie gevaarlik om op die pad te ry, want voertuie ry sommer aan die verkeerde kant van die pad om slaggate te vermy en swenk soms nie betyds terug nie!
"Seun, hoe lank is die gate al daar?"
"Maande lank al - van ons hier is ..."
"En hoe lank sal dit ons neem om ‘n kruiwa en ‘n graaf met die bakkie te bring, van die klipgruis langs die pad op te tel en die gate toe te gooi?"
Ons het dit die aand gedoen en dit was nie ‘n uur se werk nie. Die volgende oggend was motoriste verbaas - die gate was daar nie meer nie.
Ek het ‘n skatryk vriend in Zambië. Die grondpad na sy huis is in ‘n skoktoestand. Jy het omtrent n 4x4 nodig om die laaste 300 meter te ry. Elke oggend as hy werk toe ry, ontstem dit hom en verloor hy sy vrede op daai pad. Elke aand voor sy tuiskoms, maak dit hom weer bitter teenoor die stadsraad. Twee jaar na mekaar toe ek daar was, het hy gemor en gekla ...
Die derde jaar kon ek dit nie meer vat nie. "My broer, jy is n baie ryk man. Wat sal dit jou kos om vier vragte gruis te bestel en met behulp van jou tuinjong die pad self reg te maak ?'' Hy was ‘n bietjiie vies vir my, maar verlede jaar was ek weer daar ... en die pad is reg!
Vanoggend vroeg lees ek die wonderlike geskiedenis van Daniel. Lees gerus die eerste sewe hoofstukke ten minste. Daar in hoofstuk sewe lees ek drie keer (verse 18, 22 en 27) dat die Here se "saints" elke gebied op aarde gaan regeer. Dis slegte nuus vir sommige politieke partye, maar goeie nuus vir ons.
Ons - die kinders van die Here - gaan geleentheid kry om die paaie reg te maak, die misdaad stop te sit, die hongeriges te voed of beter - te help om kos te produseer ...
Sjoe, ek sien uit daarna. Maar moet ons nie nou maar daarmee begin nie ?
Kom ons gehoorsaam die Here en Bid vir die wat oor ons aangestel is;
Maak vriende met regeringsleiers ... en kyk hoe ons kan help al is dit gering!.
Ons KAN iets doen. Ons kan BAIE doen met Sy hulp!
Ek dink dit sal goeie oefening wees vir tot tyd en wyl dat ons die bestuur van die dinge sal oorneem in vervulling van wat in Daniel geskryf staan.
By Mahajanga, ‘n dorp by die see in die noordweste van Madagaskar, het ‘n sendeling begin van die vorige eeu besluit om iets te doen aan die voortdurende kosgebrek in die streek. Hy het mango plantjies begin kweek en duisende boompies laat plant. Vandag het daardie streek geen kosprobleem vir drie maande van die jaar nie. Tonne en tonne mangos hang oral aan die bome - dis mangopap, mangopoeding, mangosap, mango ingelê en ja ook mangobier en dan ook nog gedroogde mangos vir maande lank! Die reuse bome staan oral in erwe, langs strate, in die veld. Enigeen wat honger is kan pluk en eet - verniet!
‘n Paar maande gelede ry ek en Esther Kaap toe via Bloemfontein en Koffiefontein. Anderkant Luckhoff begin ons plate sonneblom langs die pad kry. Jy sien net geel.
‘n Boer het seker saad aangery koöperasie toe en nie agtergekom daar is n gat in een van die sakke nie. Die stukkie grond langs die pad kry mos meer water oor dit van die pad afloop en daar groei alles geil. Wat daarvan dat elke stadsraad vyf sakke sonneblomsaad koop en dosyne werkloses wys hoe om n voortjie te trek en die saad te plant net voor reëntyd? As die stadsraad dit nie doen nie - wat van ons ? En wat kan nie nog alles langs die paaie geplant word vir ‘n appel en ‘n ei nie?
Willie, ‘n vriend van my wat op die klein dorpie Hanover woon langs die nasionale pad Kaap toe, het moeg geword van kla oor die rommel langs die pad wat so onooglik lyk in hulle geweste. Op n dag besluit hy om self in te spring. Hy het ‘n stuk staalstaaf skerp gemaak en elke dag gaan stap terwyl hy plastieksakke en papier loop en vassteek met sy "kierie".
Gou-gou het mense kennis geneem van die witman wat loop en rommel optel en hulp aangebied. Willie kry toe ook ‘n beter plan met die dat ‘n boer vir hom vir die winter n vrag brandhout present gee...veel meer as wat hy kon gebruik.
Daar was gou ‘n oor-aanbod van vullis optellers toe hy in die swart woonbuurt bekendmaak dat hy ‘n sak hout betaal vir tien sakke rommel wat langs die pad opgetel word.
Willie het nie net die plek help skoonkry nie - die skoonmakers het ook almal gehoor hoe hulle hulle harte en lewens kan skoonkry voor die Here.
Laat ons moed skep mense - ons land het ons bitter nodig - ons wie vertel dat ons die Here volg en ken.
Laat ons ons posisie in Jesus inneem - rein en regverdig en uit genade. Moenie enige negatiewe gedagtes kosgee nie. Nie eers een nie.
Vat hulle na die Here toe en vra wat kan ons DOEN !
Vertel my ook asseblief - ek kort meer planne!
Vir wat sal ons toelaat dat hierdie regering by alles nog ons vrede ook steel?
Sê saam met oom Habakkuk van die Ou Testament in Hab 3 vers 17: "Al bot die vyeboom nie en daar's nie druiwe aan die wingerdstok nie - die oes is daarmee heen en die beeste het nie teruggekom kraal toe nie ...
"Nogtans sal ek jubel in die Here!"
Planne asb mense - planne. Laat dit kom!


