Bokomo-brekfisbrief; 14/02/09: Vir Lucas: Newwermaaind water mors, wat van tjaps lees?

  • 0

 

 

Jy noem van die riviere in jou straat nadat ʼn pyp gebars het - en die daelange waterstrome. Toe ons dokumente wou laat waarmerk, gaan ons na ʼn klein voorstedelike polisiestasietjie toe. Die ausi (ouer suster) agter die toonbank sê: "Ehe, tjhee, ntate, ek roep gou-gou iemand." Ons wag. Die iemand materialiseer nie. Die ausi ook nie.

Na ʼn rukkie sê ek luidrugtig in die rigting van die deur: "Ke batla service, ka kopo!"

Die service kom toe. ʼn Jong man in blou uniform, vaak. Ons verduidelik eers in Afrikaans en toe in Engels wat ons wil hê. Van certify the document weet hy nie. "Ke batle ditjhap," waag ek.

Aha! ʼn Lig gaan op. Hy kyk rond. "Try u (uitgespreek oe) drawer," waag ek. Hy maak laaie oop. Ja. Tjaps. ʼn Hele laai vol tjaps! Hy gryp een en wil terstond begin tjap. "Ditjap o batla ienkie," sê ek, met die verskriklikste taalfoute. As "trienkie" koeldrank is, is "ienkie" seker ink? Hy soek vir ink. "Die ink pad," wys ek in die laai. Hy gryp die ink pad en slaan drie soorte pers ink uit die ink pad met die tjap. Net voor hy ons kosbare papiere permanent maftus toe stuur, vat Buks die tjap ferm by hom oorkant die toonbank en kyk daarna. Verkeerde tjap.

Ek waag iets. Ek gebruik my Sotho-naam: "Ke Mmamosa, wena o mang?" vra ek vriendelik. Die Sotho Koninginmoeder se naam aktiveer hom met kragtige spoed.

Die paniekerige man skree in die gang af: "Aus! Aus! Atamela!"

Hier kom die vroulike beampte op ʼn drafstap nader. "Eng?" vra sy.

Ek verduidelik in Afrikaans.

"Ehe," sê sy en trek die hele laai uit en gooi al die tjaps op die toonbank. "Choose," sê sy vir Buks met haar vriendelikste glimlag. Ons choose en gee die regte tjap vir haar. Sy druk dit versigtig op die ink, vat ʼn stuk fotostaatpapier en druk die tjap versigtig daarop, met die glimlaggende woord "Test."

"Upside down, sê sy en Buks gelyk. Hy vat die tjap by haar, draai dit om, en gee dit reg terug. Sy tjap versigtig, al ons kosbare pampiri, klad elkeen droog met antieke vergeelde kladpapier nadat sy klaar is, en gee ons pak goed met ʼn glimlag terug.

"No charge," smile sy breed. Buks sploeter en brul soos hy sy lag inhou, en ek ruk my mooiste Sotho uit en bedank en groet haar soos een koninginmoeder teenoor ʼn ander.

"Please come again," sê sy. Buks draai om, vat die waarmerk-tjap, gryp ʼn dikkerige swart Koki-pen wat eenkant op die toonbank lê, en trek ʼn duidelike swart kruis buite op die stempel se bokant, en skryf onder dit "Upside Certify".
Hy kry twee duiweltjies in sy mooi bruin oë, gee die tjap terug, en sê "No charge" terwyl ek wonder of ek hom nou sal skop of later.

Sy wys na die jong man in blou. "Moshemane, oa tweba," fluister sy. Die seun is ʼn muis.

"Ntatemoholo, oa ntena," fluister ek terug. Die ou man, hy maak my moeg ...

Ons knipoog vir mekaar en glimlag. Twee ouer susters het mekaar gevind oor ʼn tjap

Joy en Blessings

Leandré

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top