Bokomo-brekfisbrief; 14/01/09: Die saak van betekenis (met apologie aan Albert Camus en ook François Bloemhof)

  • 0

 

 

Katrien Deneuve (as ek reg onthou) het laasweek gevra waaraan dit is wat ons ons menslikheid ontleen. Ek kan nie die detail als onthou nie, maar die gedagte spook sedertdien by my dat ons aanvanklik ook maar net nog ’n soogdierspesie was wat toe om een of ander rede verby blote instink en baseline intellek begin ontwikkel het en uiteindelik evolueer het tot ’n spesie van ingenieurs en dokters, ystersmede, loodgieters, onderwysers, boekhouers, allerhande soorte kroeks en kansvatters, kunsskilders, prokureurs, boere, skrynwerkers, skrywers en politici natuurlik.

Maar wat presies ís dit dan wat ons as spesie bygekry het wat ons onderskei van ons medesogendes wat nogsteeds hoofsaaklik op hulle ingebore oerprogrammering staatmaak vir oorlewing terwyl ons in vliegtuie vlieg, kernbomme bou, teateropvoerings bywoon, met mekaar kontrakteer en sommige van ons ons laaste dollars afknyp vir Louis Vuitton en Manolo Blahnik?

Ek het aanvanklik gedink dis ons vermoë om beyond blote redelose feromone vir ’n medemens lief te raak – en dit ís seker ook deel daarvan, maar daar is meer. Ek vermoed ons is mens deur ons vermoë en veral ons behoefte om betekenis aan dinge te heg.

Camus het gereken dinge is inherent betekenisloos (random?), maar dat die mens hierdie behoefte besit om betekenis aan gebeure en dinge te heg. Nou wonder ek wat was eerste: die behoefte om betekenis te vind of die vermoë om betekenis uit te rasionaliseer? (Die een moes tog seker gelei het tot die ander.) Ook: beteken die inherente betekenisloosheid van dinge dat die betekenis wat ons daaraan heg insigself betekenisloos is, of gee die feit dat ons betekenis heg juis betekenis aan ’n ding of ’n gebeurtenis? Met ander woorde, het die betekenis wat ons heg enige werklike betekenis en maak dit dus van ons die skeppers van betekenis?

Betekenis kan seker nooit konkreet wees nie, omdat dit ’n wisselvallige verskynsel is wat van mens tot mens mag verskil, maar beteken dit noodwendig dat betekenis, as dit eers geskape is, steeds maar ’n betekenislose waan bly wat nie werklik bestaan nie?

Daar is altyd meer vrae as antwoorde. Ons verstandelike ewolusie is veroorsaak deur ons behoefte om betekenis te heg, want dit skep die vrae en noop ons om antwoorde te soek en dít bring groei in ons intellek wat weer die vermoë behels om betekenis te heg aan dinge. Daarom vermoed ek dat die behoefte die vermoë voorafgegaan het, maar mens kan nooit seker wees van dinge wat jy in hierdie klein ure uitgefigure het nie omdat die nag mos net een oog het.

Miskien maak dit nie regtig saak nie, want wat maak dit saak?

Krokodil

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top