Bokomo-brekfisbrief; 13/12/2010: Venus se vliegvanger

  • 0

Ek het nou die dag vir my kinders ’n Venus Fly Trap gekoop.

Ek ken die plant, het as kind ook ’n paar gehad, maar om weer hierdie wonderlike plantjie te beleef was ongelooflik. Destyds as kind het ek nie hierdie of daardie kant oor sulke dinge gedink nie. Nou was die her-kennisname met hierdie plantjie, met evolusie in my agterkop, baie interessant.

Eerstens, die afwagting op my kinders se gesiggies toe ons wag vir die eerste vliegie prooi was priceless! Wel, naderhand moes ek ingryp en ’n vlieg vir hulle vang. Maar toe ons daai vliegie in die plantjie se bekkie gooi en hy toeklap, kon jy die verwondering op my èn my kinders se gesigte sien.

As hierdie vasbyter plantjie nie ’n lewende bewys vir evolusie is nie, dan weet ek nie.

Die Little Shop of Horrors-plantjie het my verbeelding aangegryp, en ek kon sien min dinge het my kinders nog so fassineer as hierdie vliegvangertjie.

Dis eintlik ’n skaars plantjie, wat oorspronklik van ’n klein area in Carolina af kom, en sy habitat is vleie en moerasse. Meeste plante kan nie oorleef in hierdie omgewing nie omdat hulle nie genoeg voedingstowwe in die suur, en mineral-arm grond kry nie.

Die Venus Fly Trap het toe aangepas by hierdie omgewing en floreer nou. Om insekte te vang verskaf die ontbrekende minerale asook energie-gelaaide koolhidrate.

In sy “bekkie” het hy ’n paar stekelrige voelertjies, en as ’n insek wat spartel in ’n sekere tyd (binne sekondes van mekaar) meer as een van hierdie haartjies versteur, klap hy toe. Dis ook nodig sodat hy nie onnodige energie mors deur toe te klap elke keer as iets aan hom raak nie.

En dit was ook so. Al lees jy dit, jy wil dit sien. Ek vang ’n vliegie en sit hom binne in die plantjie se “bekkie”. Die vlieg het erge trauma opgedoen want hy is ’n paar keer disnis geklap met ’n vadoek, so hy beweeg nie eintlik meer nie. Ek blaas toe liggies en die vliegie verskuif effens. En eensklaps (pardon the pun) klap die “bekkie” toe! Blitsig!

Ek dink nie ek het al ooit ’n plant so geniet soos die enetjie nie. Die arme ding, tussen my en die kinders vang ons so baie vlieë dat al sy “bekkies” omtrent permanent toe is, ek dink ons oorvoer hom effens.

Maar die punt waarby ek eintlik wou uitkom is hoe ongelooflik dit is dat iets soos ’n plant, sonder brein en sonder senuweestelsel kan evolueer, in so mate dat hy van ’n gewone plant wat net kan fotosinteer verander na ’n karnivoor-plant wat aktief sy prooi lok, vang en verorber!

Altruïs

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top