Bokomo-brekfisbrief; 13/11/08: Ete enne moewie, Pouveer

  • 0

 

 

Hel, Pouveer, hoe water my bek darem nou. Erger as 'n brak inne sielkunde-eksperiment.

Ek verstaan nogal hoekom die Groot Loopmaag so knorrig is virrie hoener. Wag nog self vir my vies om te sak. Maar virre ete soos daai sal ek maklik 'n moordkuil van my hart maak, heelaand blinkbek smaail en neutrale politeness kwytraak.

Maar eintlik skryf ek om vir jou 'n lessie te gee in lae kultuur (waarvan ek 'n kenner is en jy duidelik nie). Spesifiek in hierdie geval oor 007-flieke. Nou, dié goete was oorspronklik ontwerp vir die uitsluitlike kykgenot vannie papkoppe. Lekker musiek, ongelooflike gêdjits, smaart karre, ondenkbare aksietonele en MOOI meisies met lááng bene en groot ... e ... oge. En natuurlik geen storielyn om 'n arme papkop te verwar en sy aandag af te trek nie.

Ennie kroeke was ook nie sommer sulke hierjy jakketrakke nie. Nee, hulle was evil geniuses (wat Einstein na 'n hoener sou laat lyk) en wat alewig met moerse schemes een of anner GROOT k*k wou aanjaag. Jy weet, die aarde innie maan laat vasry - súlke goete.

En dan's daar natuurlik mos Bont, Jaaims Bont. So koel, hy pie eintlik slushpuppy. Sy soetjie sal nooit as de nimmer kreukel nie - maak nie saak hoe woes die aksie word nie (mag op die ergste dalk 'n enkele haar wat uit plek geval het heel smoef terugvee). Slim, baie slim, dié kêrel. Altyd een voor die kroeks. So nooit as de nimmer sal eers die slinkste booswig hom ooit kon gevange neem nie - wat nog hom kaalgat vasbind en sy klokke aanie brand piets!

Ek't al met Pierce Brosnan se laaste fliek gesien dinge begin verkeerd neuk. Maar vandat Bond blond geword het, het die vervaardigers die spoor opgeblaas, never maaind byster geraak. Jaaims is nou maar net nogge ou, in nogge cops 'n robbers aksiemoewie. Ag jimmil.

Na Casino Royale het ek toe maar besluit om nie meer Bond-flieke te kyk nie. Ding is, vir een of anner duistere rede hou Mevrou Papkop nou vol dat ons A Quantum of Solace ook móét gaan kyk. My pogings om die kompleksiteite van die genre aan haar oor te dra, was duidelik nog nie suksesvol nie. Ek hoop ek het 'n beter student in jou gevind.

Groete

Papkop

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top