Uniek. Of eerder twee woorde: Absoluut uniek.
Hierdie Suid-Afrika is die land van die toekoms. Met of sonder al ons pyne.
Maar as half en half 'n tipe van reisiger is daar een unieke eienskap wat geen ander nasie volgens my het nie: Ons lag. Of manier van lag as jy wil.
Ons mense het nog daardie onbeskaamde oopbek lag wat niemand anders het nie. Soms is die lag sonder tanne, en soms met designer ingeskroefde porselein goete. Maar as jy mooi kyk dan sal jy sien dat ons land se mense altyd met hul oë lag. En dit is iets wat uniek is. Soms vat dit 'n rukkie voor die lag by die oë kom, maar gee net kans. Wag tot die glans en bling en designer goete uitgepak is op die tafel en net mens voor jou staan, en jy sal sien.
Oor die klein mannetjies wat die dinge opneuk: Ons leef nie ter wille van hulle nie. Ons leef ten spyte van hulle. Ek vir een het meer as genoeg gehad van die spul uitlanders (sg Afrikane wat nie bydra tot my en jou land se toekoms nie, en ek bedoel spesifiek belasting) met hul holier than thou braaksels en teregwysings en vieslike gemors en grootbekhoudings en polssnyende gekerm en dronk, laatnag, impotente bekwassery. Hulle bestaan nie meer nie. Vir my is hulle soos die (amptelike) Britte, of Ingelse as jy wil , en politici en durf ek sê Amerikaners? As ek my wil kon kry: Non issues wie se afwesigheid inderdaad 'n seën is.
Vinnige tip oor een of twee plekke waar jy dalk nog nie was nie: Vanaf George vat jy die Glentana afrit (en hou links) en so 100 meter of wat van die afrit af draai jy links. Ry tot by die hek, en as jy nie 'n 2 liter Oom Tas (dit sal dien as "toegangsfooi", en ek belowe jou Mev Plattner sal nie weet daarvan nie) byderhand het nie stap jy verder. Al met die paadjie langs. Tot jy 'n trap kry. Klim maar die trappies tot onder en ek kan jou belowe jy sal 'n gedig kom skryf as jy terug geklim het. Of stap Maleoskop uit tot by die mas, of stap deur die ou tonnel by Waterval Boven en sit en kyk na die waterval (en as jy gelukkig is het jy 'n warm lyf as geselskap) of nee, wag, sorg dat jy net voor sonsopkoms by Beervleidam is. En dan wag jy vir die Groot Geel Ene en jy luister na sy kinders hoe hulle doer onder waar die riete nog vasklou aan die laaste voggies erg redekawel oor wie se nes nou eintlik waar is en wie se man of vrou vir wie nou weer verneuk het. Sit op daardie harde beton en luister. Geen praat nie, geen warm lyfie nie. Eish man ... Klim dan in jou kar en ry so 'n kilometer of vyf karoo in en draai in by die eerste hek. Sê vir die antie ek het jou beduie soontoe. Sy sal vir jou koffie gee, ek belowe.
Nou wonder ek wat de hel gaan in mense se koppe aan om eerder China of Oz of Europa of Alaska of noem die plek te kies op grond van een of ander vreemde ideologie (of anti-ideologie) bo hierdie lieflike land? Ons is veel, veel beter af sonder hulle, en ek beskou dit as 'n godsgenade dat hulle weg is. Die dag as hierdie spul terugkom is die teken dat ek my worteltjies moet opgrawe en iewers anders in Afrika 'n heenkome moet loop soek. Want soos Mavenster altoos beduie het: Die een of ander tyd sal jy hulle ook moet dra, want dit is eenvoudig hoe fortuinsoekers te werk gaan.
Groete uit Oesterland,
oester


