Bokomo-brekfisbrief; 13/09/2010: Lastige vossies

  • 0

Deesdae kry ek knaend sms’e van verskeie instansies. Ek word só de hoenders in, want my selfoon is net daar vir my eie gebruik en vir vriende om my te skakel.

Ek was nou al twee keer ‘n multimiljoenêr, nadat ek twee maal ‘n miljoen pond op die Britse Lotto gewen het! Ek weet nie eers hoe speel ‘n mens lotto nie, nog minder die Ingelse s’n!

In die laaste tyd word ek geteister deur een of ander obskure seksklub, asof ‘n ou Perreby op mý ouderdom nog stekies kan uitdeel!

My huisfoon word ook nie gespaar nie. Saans, nes ons wil eet, bel iemand en wil dan weet hoe dit gaan, voor daar ‘n allemintige storie gespin word oor een of ander prys wat ek móét ontvang, al sê ek ek is in ‘n rolstoel en het nie meer tande nie! Moenie glo “nee” word aanvaar nie. Daar word geskimp dat jy darem baie ondankbaar is om nie só ‘n geleentheid aan te gryp nie … dit wil sê ‘n gratis vakansie, BUITE seisoen, in die MIDDEL van die week, by ‘n BAAAIE onbekende plek.

O ja, moenie praat van al die gratis matwasse wat ek al gekry het, met dwingende agente wat ‘n stofsuier- cum-matwasser in my keel probeer afdruk! Hier was al iemand met ‘n osoonkontrepsie wat jy in jou bad moet sit, want vars osoon is dan só gesond en die borrels sit die pep terug in ‘n verlepte angel. Dan is die prys ‘n “bargain, mevrou ... net R12000 … dis op special”! Nodeloos om te sê, my angel het sonder die hulp van vars osoon sommer self reggekom en die agent by die deur uitgehelp!

My kraanwater het ook al onder skoot gekom en die giftigste swart opdrifsels het gistend en borrelend verskyn nadat die vent iets by die water gevoeg het om die “suiwerheid” te toets. Skielik is die water waarop ek my melktande gesny het, die grootste gevaar sedert Kommunisme en móét ‘n watersuiweraar dringend geïnstalleer word. Ek sal liewer nie uitbrei  op wat daarna gebeur het nie.

Aag nou ja, sonder al die roompies wat plooie uitpof, wimpers laat groei, bleskoppe omtower in welige krullebolle, kort en mette maak met spatare en selluliet, sal die ou lewe maar saai wees!

Groetnis,

Perdebytjie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top