Melt, ek hou van jou "wiefer of waffer". Saam met Jan Rap se "flapdrolhouding" 'n vindingryke nuutskepping? En dan kla onvergenoegdes nog Afrikaans skep nie nuwe woorde nie.
Oor die kursivering van HAT en AWS: Die Afrikaanse woordelys en spelreëls sê niks hieroor in sy reëls oor afkortings nie, maar agter in die Afkortingslys word die afkorting AWS nie gekursiveer nie. Ek lees nou die taalkenner Anton F Prinsloo se hoogs interessante Feite, flaters, fiksie en heel ontoevallig is ek nou op bl 31, waar hy na die HAT (ongekursiveer) verwys.
Dalene Müller gebruik egter die gekursiveerde AWS (bv op bl 268) in haar uiters nuttige Skryf Afrikaans van A tot Z. Maar soos my taalvrind Ploegskaar tereg opgemerk het: die Afrikaanse woordelys en spelreëls sprak die laaste sprook.
Terloops, titels word deesdae met 'n hoofletter begin en verder in kleinletters geskryf. In die AWS se Afkortingslys word AWS uitgeskryf as Afrikaanse woordelys en spelreëls. Eiename, plekname, ens word natuurlik soos altyd met 'n hoofletter geskryf as dit in die titel voorkom, bv Skryf Afrikaans van A tot Z.
Bogenoemde is nie 'n wet van Mede en Perse nie, want die AWS gee jou 'n keuse (bl 77): "Die hoofwoorde (selfstandige naamwoorde, byvoeglike naamwoorde, bywoorde, hoofwerkwoorde) van die titel kan met 'n hoofletter of 'n kleinletter begin ..."
Interessantsheidshalwe, oor die Wet van Mede en Perse skryf dr Prinsloo soos volg in Feite, flaters, fiksie:
"Die Wet van Mede en Perse is 'n wet wat op geen manier verander kan word nie. Medië was 'n antieke land van Wes-Asië (vandag se Azerbaijan, Koerdistan en 'n deel van Iran) wie se inwoners in 621 vC die Perse oorwin en saam met die Babiloniërs Ninevé verwoes het. In 550 vC is die Mede deur die Persiese heerser, Cyrus die Grote, verslaan. 'n Kenmerk van die Mede en Perse was die onverbiddelikheid van hul wette, soos wat ook in die boek Daniël 6 vers 8 gemeld word."
Taalgroete
Jelleke Wierenga


