Bokomo-brekfisbrief; 13/04/2011: So van waens gepraat

  • 0

Onlangs van die wa afgeval? Roep hokaai en kyk wat gebeur. Alvorens jy jouself optel, afstof en die wa probeer inhardloop oorweeg bietjie daardie wa. Hoekom, byvoorbeeld, is die vrag nie genoegsaam beveilig nie? Maar belangriker nog, waarheen donder die dekselse ding in elk geval?

Daar’s verskeie waens. Die wa waarop die jellytot-volk hulle tans bevind, die “free-ride-wagon”, beweeg nie eers nie. Die wa staan onklaar in die teater van die lewe. Net die geverfde agtergrond word nog met reëlmaat verander om die illusie van beweging vol te hou. Die wiele is lank reeds gesteel en met die ander houte hou hulle braaivleis. Aanstap rooies die vuur is lankal klaar, die braaivurk wag al daar en jul dye moet nou gaar.

Dan was daar die wa wat se reg tot toegang voorbehou was. Baie het al op so wa wakker geskrik maar toe hulle, hulle voetjies begin stamp in verset oor al die agtergeblewenes langs die pad is hulle summier van die wa afgegooi. Soos Nick Cave sing: “The nag was dead meat anyway, we can’t afford to carry dead weight ... ”

My gunsteling natuurlik is die wa met seile pleks van trekdiere. Die wa fok enige rigting wat lei tot die naaste afgrond in. Ek kan nie aan ’n regverdiger manier dink om van hierdie ooraanbod boepense te skud nie. Om daardie gierige ogies te sien blink asof hulle alreeds oor die land van melk en heuning beskik en dan die besef dat die wa uit aarde uitgehardloop het. Daardie ontnugterde sluk wat soos ’n klip in die keel afstort. Kyk, om vrywillig jou moer suur te val wa en al ...

My advies is bou jou eie wa. Besluit op ’n bestemming en spoed waarmee alle insittendes gelukkig is. Stop gereeld en verwonder jou aan die skouspel om jou. Klim selfs af, skop die skoene uit. Maar onthou, beskerm daardie vrag met jou lewe!

Adriaan

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top