Bokomo-brekfisbrief; 13/04/2010: Vega op die platteland

  • 0

Vega, ek het jou brief geniet. 'n Paar goed het jy nie gesê nie, wat hier by ons aan die orde van die dag is.

Die meeste winkels maak toe oor die middag; as jy van die plaas af dorp toe kom, moet jy óf sorg dat jy 1nm klaar is, óf jy moet iewers verwyl tot 3:30 om jou besigheid klaar te maak.

Jy moet by die enigste sekuriteitsmaatskappy 'n wag huur teen R10 per uur om jou bakkie-met-die-kap op te pas, anders kom jy sonder jou kruideniersware vanaand op die plaas aan. By elke stop in die dorp wag daar talle klein outjies, party skaars skoolouderdom, om jou "kar op te pas". Niemand gee om dat hulle nie skool toe gaan nie en die geldjies wat hulle in die hand gestop word, is hul lewensbehoud.

Ek wou verlede week 1 liter swart verf koop, toe vra die winkel my R191.

Die vrou by die munisipaliteit wat dit reggekry het om R700 000 te steel voordat iemand dit agtergekom het, is nou na 'n jaar weer terug in haar werk. Die een wat by die TV-plek R73 000 in een maand gesteel het loop al laggende los rond in die straat.

As jy nie by Peps klere koop nie, koop jy nie klere nie. Dan spaar jy vir die een of twee keer per jaar wanneer jy Kaap toe gaan en koop vir die seisoen. Dit sorg daarvoor dat jy geweldig uitsien na die Kaapse besoek, want ai, om darem net weer 'n verskeidenheid te sien en te kan kies!

Maar ek moet sê, die haarstyle is hier darem meer modern. Selfs my buurvrou, wat 'n bittereinder was, het 'n paar maande gelede die perm gelos.

Groetnis en lekker bly in jou dorp. Die lug is skoner en die pas is stadiger en die mense ken mekaar nog. Dit is tog voordeliger as die stadslewe.

Lorca

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top