Bokomo-brekfisbrief; 13/04/09: The Raj is back

  • 0

 

 

Nou dat Yuri dit noem, sien ek ook nou die dag een bekende wese op ʼn plakkaat aan ʼn kragpaal hang hier in Pretoria. Ek ruk amper toe my nekwerwels uit lit om te sien wie die bekende/beminde persoon is. Sowaar, dis die Raj van alle mense.

Ek het die besondere voorreg gehad om een heuglike dag saam met die Raj en sy hele kiesafdeling/familie deur te bring. Ek het op ʼn stadium van my lewe in Durbs by die see gewoon.

Ek, my huidige vrou en twee vrinne besluit ons wil op die Royal Zulu die see aandurf. Die Royal Zulu was ʼn vragskip wat in ʼn plesierskip omskep is en het toeriste op plesierritte in die hawe en, as die weer toelaat, op die oop see geneem.

Die betrokke Sondag skuif ons toe hawe toe en bestyg die skip. Ons kom toe agter dat ons die enigste wittes op die skip is. Die hele Chatsworth-kiesafdeling en Rajbansi-familie is toe op die skip.

Ons tjoef-tjoef toe eers in die hawe rond en later beur ons toe uit, die oop see in. Ongelukkig het die Noordwester toe in volle sterkte begin waai toe ons omtrent regoor Umhlanga Rocks vaar. Op daardie stadium word die see erg rof. Ek en aanstaande vrou staan toe op die hoogste dek om die seesiek te vermy. Die vrinne van my staan en suip biere en smul aan vetterige hamburgers wat sulke vaal kleurige vleisvulsels bevat.

Ek stel toe aan aanstaande vrou voor dat ons in die sitkamer gaan sit waar daar lugreëling is. Ons loop toe gly-gly in die skip se gange af na waar die sitkamer is. Al wat Moodley en Naidoo op die skip het toe reeds die bus met die wit stuurwiel gevang. Ek het ʼn erge sensitiewe konstitusie, ek kan nie eers ʼn ou hoor katskiet op ʼn draadloos nie, wat nog om iemand te sien!

Ons maak onsself tuis op ʼn bankie toe mevrou Rajbansi reg voor ons kom sit. Haar grimering was met sorg aangesit en hare opgeklits in ʼn byekorfstyl. Haar tabberd/sari ʼn helder groen syagtige skepping met patrone op. Die Raj kom sit langs haar, maar o wee, die see het mev Raj aangetas. Sy spuit hom met ʼn geel kerriemengsel op sy blougestreepte dubbelborspak. Hy ruk hom daar op en pluk mev Raj op haar voete met ʼn hoorbare gemompel: "Hey, woman, what you embarrass me and all?"

Ek is toe agterna met aanstaande vrou kort op my hakke, want op daardie stadium soek ek vars lug op my seemansgesig.

Reusedwerg

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top