Bokomo-brekfisbrief; 13/02/2010: droomwêrelds verward

  • 0

besef't nou, nou eers, paar van ons's anners,
glad nie in tred met narcissisties' Self-Sarkozy,
narriteit, Self be-Berlusconi, so ver-Rajbansi soos Sol,
jeentemal uit voeling, bewussyn, vannie Werklikheid,
eish, allie eise van belasting terug-eis, ná geskenk-tyd

as jy nie soos ons paartjies, selfs op Valentino Dag,
‘n bietjie liefde vir jou Naaste kan wys, is jy nie wys,
voel jy vere, vir Vrede, Gelykheid, Geregtigheid,
vir alles-ondersoek-in-Lig-van-God-se-Waarheid

sal jy jou Volkslied woord vir woord (moet) vertaal,
terwyl jy sing, veel meer patrioties word,
vra dat ons Koning Kontinent Afrika heel hou,
reg vir ons stam se nageslag se nageslag,
vir Millennium Vier se familielede

hoewel ons veronderstel is, deur die bank,
nie noodwendig ABSA of DBSA nie,
absoluut gelyk behandel te word voor Gelykheidswet,
hoewel die minderheid tog nog in staat is,
hulself uit hul legitimiteitskrisis te red,
issit, ‘n feit, volstrek, onweerlegbaar,
meeste Mens leef nog baie bitterlik swaar,
nes ons, vasgebind, in struktuurgeweldsindroom,
soos mampara-paparazzi, blieng-blieng, trieng-trieng,
‘wotsup', hiphopkoppe, koelkatnommers, half-Mens,
Skrifgeleerdes, Sjegs en Sjeiks, Hoëpriesters,
Vaders, moeders, Profesie-verklaarders, -uitleggers,
so vasgevang in geykt' stereotipies' diskriminasie,
net halfpad opgewarm, nuwe baadjie oorgegooi,
praktiseer van uitgediende uitgediendhede,
ter wille van kultuur, taal of ander abstrakte,
nie-lewensnoodsaaklike, oorlewingsmiddele

loop'k deurie stad, droomwêrelds verward,
soos Afrikaners, Euro-Indo-Khoisan, in Australasië,
noord van die Middellandse See, wes van Kuba,
soos Eerste Homo Sapiens Sapiens, in vreemdheid,
in Oud-Nederlandsche ‘Boschman'-skap, soos bobbe-aap,
naakte naaste van Mens, histories ‘Homo Wreedheid Par Excellence',
Eerste Burger wat met sy ‘Mshini' van ons ontslae wil raak,
waarvoor anders word ‘n AK47 dan gebruik, stupid, sot,
moet ek, in my mede-Menslikheid, dan so laag gevat word,
soos ‘n moegoe woordgeweld ontbeer, terwyl ons Handves,
reg is om verkondig te word, as alles wat rég is,
alles wat ons nodig het om progressief, denkend, te leef,
waarvoor kan ons tog nog meer vra, Moeder Afrika,
as ‘n Grondwet so vrygewig, so gedienstig aan Mandela,
sy gees van vergifnis, sy humiliteit (al is hy miskien skelmpies ‘n Profeet)
het hy jou waarlik al lankal al, baie meer as meeste van ons geweet

was als nie so pseudo-demokraties, kommersieel, uitspattig,
onmenslik-oordadig, neo-liberaal ge-Carducci-Gucci,
ge-blieng-blieng, be-trieng-trieng, tot op bodem van ons Staatskas,
tot laaste reste van ons Reserwebank uitgeput is, kluis vir kluis,
tot in finale eggo's van Sy Edele Msholozi se ‘Mshini wam' woordgeweld,
vir sy bambam is ek baie bang, selwers ‘n krygsheer van weleer,
egter al die agressie, moordlustigheid, deur boeklees, studie, afgeleer,
al is'k selwers ook vertroud met werking van ligte masjiengeweer,
dreig of dreunsing'k nie, juis my punt, te veel werk wat op Mens wag

ons kan nie bekostig met weerligafleiers, PR-spin, selfverryking
enigsins effektiwiteit van ons NDR te probeer verdun,
maak't eenvoudig net nie romanties-rewolusionêre sin,
as ons Prez nog gekluister is, vas, in illusie van ‘ras' en ‘klas',
asof apartheid maar net ‘n ultra-lang, ontstellend' nare droom was

en maak asof daar nooit, ooit in der ewigheid,
Eerste Mens in Suide, verder noord ook, op hul eie,
sonder inmenging, kolonialisasie, grondroof,
sonder verkragting, uitwissing, onderwerping, verdrukking,
sonder slawerny, apartheid, sindroom van superioriteit,
baie goed klaargekom't, na goeie dunk, in oorleg,
inter-kommunikatief, respekvol, deursigtig,
saamgeleef het as Kwa, Mens, Ntu,
tot lat Vreemdes toe aankom, met hul Boek,
soveel Liefde daarin versteek, hul moes dit eenvoudig verdraai,
sodat ons ons Sélf, ons God, ons Syn, kompleksiteit van Bewussyn,
soos Guantanamo-gemarteldes, uiteindelik, gedwonge, moes verraai

geen woorde in ons taal, daai tyd,
soos ‘vryheid', ‘gelykheid' of ‘geregtigheid',
sulke terme voorvereis't mos, vanselfsprekend,
dat't uit een of ander soort Paradys-Taal vertaal is

toe daar nog geen noodsaak of -likheid,
was vir stryd versus illusie, distorsie, pseudo-visie,
van Eerste Mens as ‘Boesman', Moslem as ‘Slams',
mede-Afrikaan as ‘Kwerekwere', Afrikaans as ‘isiBhulu',
van ‘Duiwelspiek' as bloot onskuldig, waar is ‘gelowiges',
as net skinder-en-seks van geelpers op hul agenda is,
hul nie toegewyd tot bespreek van God S'n is

vra Mens jou Self waar de duiwel kry Mens nog Laafnis,
as alle ‘gelowiges' so Afghanistanisties ge-911, ge-Haïti is,
so verslaaf aan hul Duiwelspiekdissipelskap, in der daad,
dat hulle hul kinders afstaan aan vreemdes, gewetenloses,
nie bereid, gewillig, om ons land te help herbou,
deur te begin by Rekonstruksie van Gees en Siel,
alles wat oorbly as Eerste Mens se Eerste Lewe oor is,
‘sout van die aarde' se stof weer terug op dees' Aarde is,
nie meer nodig om op skyn, magspel, voorgee,
op enig' onredelik' onhebbelikheid te hoef berus

Jacobus Faasen

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top