Bokomo-brekfisbrief; 13/01/09: Rolf die grote … Vir almal wat honde het EN bure het

  • 0

 

 

My hond se naam is Rolf. Hy is baie groot, maar eintlik is hy maar nog ’n babatjie. Hy is baie lief vir eet. Daar is ’n groot verskeidenheid goeters wat hy daagliks verorber. Hy het min fiemies, want hy eet enigiets wat beweeg. Hy eet ook verskeie goeters wat nie beweeg nie. Gister het hy my fiets se buiteband verslind. Hy het die vorige dag ge-snack aan die swembad se Kreepy Krauly. Hy het al vyftien van die kinders se skoene opgeëet, maar hy het darem nie net ’n voorliefde vir gemorskos nie. Hy eet ook sy gewone hondekos, Epol.

Hiervan verwerk hy rofweg 10 kilogram per week tot SponsSpykers. (Ons noem hulle sponsspykers omdat jy enige tyd net so kreupel loop wanneer jy in een van hulle trap.) Dit is gelykstaande aan 520 kilogram Epol per jaar of dan 0.24 ton. Dan is dit ook ’n feit dat hy ongeveer drie tot vier Spykers per dag draai, of dan 28 spykers vir elke 10 kilo’s Epol. Hoewel die spykers nie soveel weeg as die oorspronklike Epol nie, is die volume aansienlik meer. Ek het ongelukkig vergeet hoe om volume berekenings te maak, dus het ek geen ware feite nie. Bloot emosionele gissings.

Gelukkig het die ander honde, die Border Kollies, hom gou geleer dat hy moeilikheid kry as hy hulle op ander plekke draai as op die toegewysde grasperkie voor die Pruimboom. Die Kollies het mettertyd uitgewyk na die hoek van die erf omdat Rolf al hoe meer die grasperkie vir homself opgeëis het.

Rolf is nie ’n dom hond nie, maar hy lyk op die oog af nie so slim soos die Border Kollies nie. Ek het hom nie gekoop omdat ek van hom verwag het om my begrotings te laat klop nie. Ek wou hê die mense moet skrik as hulle hom sien, en dit kry hy baie goed reg. Hy hou vreemdelinge van my hek af weg, en my huis staan bekend as die huis waar die leeu bly.

Die dag toe ek hom huis toe bring het ons lank gesukkel om konsensus te kry oor wat sy naam sou wees. Daar was verskeie opsies. Die kinders wou hom Simba noem, Muggins, Hooch, Zorro, Pluto en selfs Apollo. Ek het gewen. Die hond moet ’n kort en kragtige boerenaam hê: Rolf. Rolf klink na die soort oorwinnaarsnaam wat mens sou kon hoor wanneer ryke tuimel. Keiser Rolf, Veldmaarskalk Rolf. Selfs ’n generaal sou homself kon bevoordeel met so ’n naam. Kort, kragtig en op almal se lippe na die tweede noem daarvan.

Die eerste twyfel oor sy naam het egter eergister ernstig by my begin spook. Miskien moes ons hom maar Apollo genoem het, na die Amerikaanse ruimtetuie. Waarom dan vir Rolf ontneem van sy Generaal-status?

Wel ek het besef dat hy nie so dapper is as wat ek gedink het nie. Hy het in die laaste tyd begin om te tjank in die nag, wanneer almal wil slaap en ek het nou al probleme met my bure daaroor. Dis ernstig, veral omdat die laaste huismoles waarin hulle honde die groot kwessie was, nog nie verby is nie. Ek het die nag drieuur gebel en vir Paul gevra of hy besef hoe sy hond se gekêf my pla. Toe antwoord hy, verbasend skerp vir ’n man wat deur die slaap moes gewees het, “Wag ek gaan roep hom dan vertel JY hom …” Ons het sedertdien nie weer gepraat nie. En nou verwag ek dat hy my binnekort gaan aanspreek oor Rolf.

Nog ’n rede waarom die Nasa-konnotasie aan die naam Apollo vir Rolf sou werk, lê in die feit dat die ruimtetuie veral gebruik is vir pionierswerk en die inwin van inligting en Rolf is beslis ’n pionier! Hy het eiepotig al die hele landskap van die tuin verander om te soek na onbekende VVV’s (vreemde verrotte voorwerpe).

Verder moes ek op die koop toe besef dat die hond se getjank dalk ’n vreemde soort kommunikasiekode is, wat hy saans die hemelruim instuur. Dit kan nooit anders wees nie, want as mens die prentjie effens wyer beskou, raak dit duidelik dat Rolf eintlik baie slimmer is as waarvoor ek hom aanvanklik wou krediteer. Ek het uitgezoom, as ’t ware en gesien dat daar ’n patroon gevind kon word in die plasing van die sponsspykers op die palet van die klein grasperkie en ek moet begin glo dat Rolf dalk besig om ’n primitiewe skrif te gebruik. ’n Soort simboliese kommunikasie? Ek kon egter nie enige sin daaruit haal nie, want geeneen van die simbole was vir my bekend nie. Tot eendag toe Carla, my jongste, dit aan my uitwys met: “Haai pa, kyk dit lyk soos die Suiderkruis …”

“Toevallig!” het ek eers gedink, maar sedertdien het Rolf al suksesvol gewerk aan die konstellasie van Orion, die Skerpioen en Canus Major, die Hondster. Wat dit vir my erger maak is die feit dat hy die patrone dikwels herhaal. Ek weet nog nie presies wat die hond vir my probeer sê nie, maar dit sal seker ’n tydjie neem. Ek moet seker maar nie te haastig wees nie.

Daar is per slot van rekening nie baie mense op aarde wat kan sê dat hulle gisteraand op Alfa Centauri gestaan het nie. One small step for man …

Lucas Maree

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top