Bokomo-brekfisbrief; 12/11/09: Meer oor Gilgao

  • 0

Eerstens, baie dankie aan almal wat reageer het op my brief oor my ontmoetings met Gilgao. Sekere gebeure in 'n mense se lewe bly jou mos vir altyd by. Ek moes wik en weeg of ek my storie sou vertel. Daar is altyd die moontlikheid dat dit te ongelooflik sou klink, om as die waarheid te aanvaar. Daarom is dit nie vir my snaaks dat mense sou wonder daaroor, of Gilgao die werklikheid is of nie? Ek sien hom as 'n ongewone man, met 'n (volgens my) geweldige intelligensie en die uitsonderlike vermoë om dinge op 'n unieke manier te verduidelik. So eenvoudig dat selfs ek dit kan verstaan. En omtrent altyd word daar iets uit die natuur geneem wat as voorbeeld dien. Die enigste alternatief vir die werklikheid sou dan seker wees, dat ek myself sou moes oortuig, dat ek vir 3 jaar lank op dieselfde dag en datum kon hallusineer het! En dit nogal opvolgend? Maar waarom sou dit dan gebeur? Die resultaat is egter tog al wat uiteindelik vir my en my gesin saak maak.

Selfs wanneer ek 'n ligsinnige vraag gevra het, was dit sonder omhaal deur Gilgao geantwoord. Ek het (tot my skaamte) eenmaal 'n baie simpel vraag gevra! Ek wou weet (moenie lag nie) wie was eerste, die hoender of die eier? Ek kon myself omtrent direk daarna skop, maar die vraag was reeds uit.

Sy verduideliking is soos gewoonlik afgeskop met ‘n vraag. "Is daar vandag nog hoenders? Word hulle uit eiers uit gebore? Indien wel, moes dit tog bevrugte eiers gewees het, of hoe? Maar hoe sou die eerste eier dan bevrug kon raak, as daar nie aan die begin "twee" hoenders was nie?"

En ek was vuurrooi van skaamte, omdat ek dit eintlik as 'n strikvraag bedoel het. Sulke dwaasheid!

Daarna het ek my vrae beter probeer kies. Ek moet ook tog erken dat ek soms vrae gevra het, wat ek oortuig was baie moeilik beantwoord sou kon word. Ek was egter elke keer verras omdat die antwoord altyd op die eenvoudigste manier, sinvol beantwoord was. Ek het vir hom die grootste respek, tot nou toe nog. Dis waarom ek bly praat van my vriend, Gilgao.

Groetnis,

Neels (Husky) Visser

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top