Al hoe meer is daar mense wat wonder wat ’n Afrikaner nou eintlik is. Na diepe bepeinsing en intensiewe navorsing het ek die volgende vraelys opgestel om mense te help om die probleem op te los:
- Hou jy van vleisbraai?
- Hou jy van braaivleis?
- Hou jy van rugby, krieket, sokker, rolbal, gholf, jukskei, veerpyltjies en yshokkie?
- Is jy gek na die see, die bosveld, berge, riviere en vlaktes?
- Kan jy boer?
- Besoek jy gereeld opera- en balletopvoerings?
- Het die balju al ’n lysie van jou meubels gemaak?
- Glo jy ’n n-dimensionele ruimte kan minuskuul opgevou word in ’n n+k-dimensionele ruimte met k en n positiewe heelgetalle en k<n?
- Is jy ’n oortuigde Christen / Moslem / Jood / Hindoe / Zen-boeddhis en as sodanig maak jy seker jy weerhou jouself daarvan om mense van ander geloofsoortuiginge te beledig of te kritiseer?
- Maak jy dikwels spelfoute?
- Is jy ’n oortuigde ateïs / agnostikus en as sodanig maak jy seker jy weerhou jouself daarvan om mense van ander insigte te beledig of te kritiseer?
- Het jy al self ’n wasmasjien / stofsuier / kar reggemaak in ’n poging om geld te spaar en in die proses die wasmasjien / stofsuier / kar onherroepelik opgef#k?
- Irriteer Engfrikaans die dinges uit jou uit?
- Indien punt (9) op jou van toepassing is, glo jy dat, as jy ’n boodskap van Bo kry, hetsy direk of deur middel van ’n dominee / priester / rabbyn / imam / pastoor / profeet / predikant / prediker, dit in Afrikaans sal wees?
- Is dit vir jou hartseer dat Afrikaanse dorp- en straatname verander word?
- Kry jy die horries as ’n persoon die sinsnede ‘dit doen’ gebruik?
- Is jy lief vir wild?
- Gebruik jy dikwels die sinsnede ‘dit doen’ en die woorde ‘stunning’ en ‘amazing’?
- Irriteer dit jou grensloos as iemand die woorde ‘stunning’ en ‘amazing’ gebruik?
- Steek dit jou dwars in die krop dat Afrikaanse glanstydskrifte Engelse advertensies het?
- Is insekte vir jou interessant?
- Glo jy dat 0 ’n getal is?
- Voel jy sterk dat 0 nie ’n getal is nie?
- Het jy respek vir oumense, kinders, portuurgroepe, ander volksgroepe, ander rasse en ander spesies?
- Voel jy dit is kindermishandeling om Afrikaanssprekende kinders in Engelse skole te sit?
- Is jy trots op die naam ‘Boer’?
- Haat jy die naam ‘Boer’
- Speel jy gholf / krieket / rolbal op Sondae?
- Gaan jy kerk toe op Sondae?
- Gebruik jy partykeer, wanneer jy skrik, of ergerlik is, of jou duim raakslaan, enige van die familie van woorde met wortel ‘fok’?
- Het jy al arc-eyes gehad?
- Is jou pak ouer as jou kinders?
- Kan jy pap maak?
- Is die pak in (31) sommer jou troupak ook?
- Het jy al jou wederhelf en/of kinders se verjaardae vergeet?
- Is jy van ’n plaas / plot / huis deur volksvreemdes verdring?
- Het jy ’n Armani-pak?
- Het jy al ooit ’n spietkop R(k/n) gegee waar k die oorspronklike boete sou wees en n ’n positiewe getal >1?
- Kan jy wyntaal praat (jy weet, ‘boeket’ en al daai twak)?
- Dink jy dis barbaars om wyn te gorrel en uit te spoeg?
- Irriteer Engelse advertensies op Afrikaanse radio- en televisieprogramme jou?
- Het jy ’n goeie pyp?
- Het jy ’n kettie en ’n gevlegte sweep?
- Kan jy ’n tweede taal praat?
- Het jy ’n driepootpot en ’n stuk exmet as rooster op ’n ou kruiwa?
- Weier jy om ’n kous wat in die kleure van die vlag geweef is oor jou kar se spieëltjie te trek?
- Het jy om ’n kous wat in die kleure van die vlag geweef is oor jou kar se spieëltjie?
- Hou jy van Boeremusiek?
- Haat jy Boeremusiek?
- Koop jy Afrikaanse boeke?
- Het jy ’n Duitse / Sweedse motor?
As jy deur hierdie vrae met ’n respondent gedraf het en hy/sy het ’nee’ geantwoord op vraag (6) maar ‘ja’ op enige van die ander is die kans goed dat hy/sy ’n Afrikaner is. Jy kan egter 100 % seker maak en baie tyd spaar deur al bogenoemde vrae met die volgende vraag te vervang:
Is jy ’n Afrikaner?
Indien die antwoord ‘ja’ is, is die persoon ’n Afrikaner.
Jan Rap


