Bokomo-brekfisbrief; 12/10/09: Aan Thomas: Die Dans van die Reën

  • 0

Beste Thomas,

Jou brief het my nou laat terugdink aan baie jare gelede, toe ek nog op skool was. Kyk, waar ek skoolgegaan het, was dit wragtig droog. In st 7 het dit nie gereën nie, in st 8 het dit nie gereën nie, in st 9 so ‘n paar druppels, en in st 10 weer absoluut niks.

Dit was juis in st 9 met die paar druppels wat dit vir jou ‘n affêre was.

Nou moet ek eers verduidelik dat ek ‘n koshuisbrak was, en die koshuis het aan die eenkant seuns gehad, met meisies aan die anderkant.

Dit was net so met stiltetyd, halfvier die middag, en ek was besig om my rugbyklere aan te trek, toe dié paar druppels begin uitsak het. Uitgelate en kaalgat hardloop ek by die deur uit om my dans van die reën te doen. Soos ek hardloop, nooi ek almal uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.

Dis toe ek so ewe skelm oor die bergtop loer, dat ek vir ou Daan met die kweperlat gewaar. Toe wink ek nie meer met die een hand nie, nee, toe skud my krale soos ek hardloop.

So in die verbygaan, sien ek net koppe by vensters uithang, maar dis almal my pelle wat my toejuig en aanmoedig om meer danspassies uit te voer. Ongelukkig moes ek by ou Daan verby kom, en hy was groot van gestalte. Waarom ek darem só ‘n wye draai gegooi het, weet ek nou nog nie, maar toe ek my kom kry, hoor ek net meisies gil.

Nodeloos om te sê, ek was in groot, groot moeilikheid. My meisie het my afgesê. Ek is vir ses maande gehok, en amper van die skool geskors. My pa en ma is ingeroep, ek het ses strepe op my boude gekry, en die dominee het my kom vertel wat gebeur met stout seuns wat in die reën dans.

Een groot troos: van toe af het ek darem so vyf, ses meisies gehad om pouses mee te gesels. Ek weet nie juis wat hulle in ‘n lelike ou soos ek gesien het nie, maar dit het so vaagweg deurgedring dat ek tog beloon word vir my braafheid.

Groete, en laat weet of ek by julle moet kom dans.

Angus

NS Apologie aan Eugène Marais en ook Jan Konterdans dat ek die lied van die vioolspeler so misbruik het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top