Bokomo-brekfisbrief; 12/10/08: Aardklop 2008

  • 0

 

 

Die pas afgelope Aardklopfees was 'n reuse sukses. Nie net vir die organiseerders nie, maar ook vir die feesgangers.

Alhoewel elkeen se smaak verskil wanneer dit by musiek en toneel kom, is daar tog raakpunte tussen meeste van die feesgangers. Een so 'n raakpunt was die eenmanstuk van Rian van Heerden - VAK. Soos Rian dit self stel aan die begin van sy vertoning: "Hierdie is nie vir die gewone kerkmens, sissies of suurstofdiewe nie. Dié wat nie die wilskrag het om na swets en skelwoorde te luister nie, moet eerder die ‘kamer verlaat'."

Niemand het die ‘kamer verlaat' nie en mens moet dus aanneem die/ons suurstofdiewe se lang pad deur die lewe het reeds met dié taal kennis gemaak - Indo-Europees met 'n tikseltjie kruie by.

Omdat ek al in die verlede uitgeskel is vir 'n homofoob, wil ek net dit sê: Rian is my tipe mof. Reguit, onbeskaamd, en geensins geaffekteer deur sy uit die kas klimmery nie. Sy lewe gaan normaal voort en geen drama queen-gedrag by hom nie. Inteendeel, ek, as heteroseksueel sien in hom meer manlikheid as by baie van vandag se pansy-mamma's boys met 'n laventelgeur wat jy drie straatblokke ver ruik.

Die breë spektrum van ons Afrikaanse samelewing loop kwistig onder sy tong deur, ook die politiek van die dag. Niemand en niks word ontsien nie.

Nicolaas Louw word gevra om uit die kas te klim, sodat daar plek gemaak kan word vir sy skoene.

Ook: SA politiek gaan nêrens heen nie en Steve Hofmeyr kom te veel.

Ek kan dit sterk aanbeveel; as die skel- en kwetswoorde jou nie sal ontstel nie.

Kruger Kook is tweede op my lys. Skreeusnaaks is 'n selfmoordbomaanvaller wat die selfmoordbomaanvaller-hulplyn skakel oor sy bom nie wil afgaan nie. Die satire wat daaruit voortspruit is iets wat my lank sal bybly. Gaan kyk dit gerus.

Shirley Valentine met Shaleen Surtie-Richards verdien ook vermelding, al is dit net oor vroulief en my dogter dit geweldig baie geniet het.

Die meer gesofistikeerde en dieper stukke het ek liefs vermy, veral na ʼn kuier saam met 'n paar studente van Tuks, en veral Boekenhout-koshuis (word dit nog 'n koshuis genoem?) waar die bipolêre debat op LitNet groot aandag ontvang het. In die groep was ook 'n paar bekende sangers en sepiesterre wie se name ek eerder uit die gesprek sal laat oor wat volg. Is regtig nie lus vir prokureurs, sensuur of 'n haatspraakklag nie (geen bybedoelings):))

Dit het begin toe drie mans, wat duidelik gay was, verby die Geraasplaastent geslinger het en die middelste een beide sy vriende se boude met sy hande vasgeknel het. Sê een van die studente: "Dis nou wat jy ʼn bipolêre konneksie noem." (Soos ek al vir antie Aggenys geskryf het: sintakties uiters snaaks.)

Uit blote nuuskierigheid wou ek na die gelag weet hoekom hy nou juis daarna as bipolêr verwys, en groot was my verbasing toe bykans die hele groep (ongeveer 15 mense) laat deurskemer het dat hulle die debat op LitNet volg. Die aand het daarna gedraai om bipolêr en depressie.

Genoeg om te sê, daar kon geen konsensus bereik word oor wie as bipolêr en wie as bloot depressief beskou mag word nie. Ek moet ook noem dat 'n sielkundige in die groep was wat vir 'n groot farmaseutiese groep werk, en uit die aard van sy beroep daagliks daarmee te doen het. Uit die gesprek was dit duidelik dat almal bewus is van bipolêre depressie, maar dat daar ook gemeen word dat bipolêre depressie as 'n sosiale konstruk in sekere kringe beskou word (selfs die sielkundige het daarmee akkoord gegaan).

Weereens, een van die Boekenhout-studente: "As jy bipolêr is, is jy ʼn geniale wenner. As jy net gewoon depressief is, is jy gewoon stupid en moet jy deurnag leer vir die volgende dag se vraestel."

Volgens ons sielkundige vriend, vir wie ek groot respek het, word self-diagnose in meeste van die gevalle toegepas en is dit 'n baie klein persentasie wat werklik bipolêr depressief gediagnoseer word deur kundiges. Dit is eerder 'n geval van 'n tuis-diagnose en dan word van die sielkundige/dokter verwag om die tuis-diagnose te onderskryf en te behandel.

Dat die debat in baie wyer kringe gevolg is as wat ek persoonlik vermoed het, het in die volgende paar dae baie duidelik geword. In bykans elke gesprek waarby ek betrokke was, is na die "jammer-siekte", "psigologiese probleem", "afwyking" of "professionele kulkuns van depressie" verwys, met baie vir Koos en net so baie vir Deon Knobel. Onder die sangers het veral Deon deurgeloop en onder die sepiesterre Koos én Deon.

Maar genoeg daaroor en hopelik ook my laaste woord daaroor gesprak. Net een laaste opmerking deur een van die Boekenhouters: "Dozi is 'n bipolêre geval wat uit die kas behoort te klim" en om sout in Olienhout (koshuis oorkant Boekenhout) se wonde te smeer: "Almal in Olienhout ly aan bipolêre depressie, want hulle fondasie is mos op k*k gebou." (Hiermee word verwys na die gebou (Olienhout) wie se fondasies oor ou ʼn rioolplaas gebou is).

Enkele laaste opmerkings oor Aardklop: As jy dit nog nooit meegemaak het nie, het jy nie jou stuiwer in die armbeurs vir Afrikaans geplaas nie.

Adam Tas is 'n blink diamant wat misgeluister word. Snotkop se musiek is presies dit wat sy naam versinnebeeld.

Smokie het die ouetehuis in Suid-Afrika 'n reünie laat hou en dit is vir seker die nostalgie van 'n verbygaande era werd om hulle in lewende lywe te sien optree.

Melktertkommissie raak soos goeie wyn beter met tyd en sal na dese ʼn uitsoekplekkie op my CD-rak kry. Die Idols Band was loshande die lekkerste musiek om na te luister, veral hulle Queen-weergawes. Kobus Muller, wat vir Smokie geopen het, was nie toepaslik vir die oomblik nie. Hy moet sy eie genre vind en hom daarop toespits. 'n Suiwer en sterk stem is nie noodwendig 'n "Smokie opener" nie.

Een héél laaste opmerking: die jong dametjie wat laatnag agter die boom in die hoofstraat gesit en piepie het, ons het jou gesien en het 'n foto as bewys.

Groete

Swerwer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top