Bokomo-brekfisbrief; 12/09/08: Die minister se hulp

  • 0

 

 

In 1996 het die SAL 'n klompie Suid-Afrikaanse redakteurs genooi om hul eerste vlug na Osaka, Japan, mee te maak en sommer 'n lekker toerjie ook te geniet. Saam met ons was die "Minister for Public Enterprises", haar edele prinses Stella Sigcau, voorheen premier van die "vrye" Transkei, in wie se brandkluis daar glo selfs 'n kopbeen was, as mens die nuusmense van daardie tyd kon glo.

Dié gewigtige dame, letterlik, het ons baiemaal laat wag - 'n bron van skaamte by die Japannese wat stiptheid en goeie maniere bo alles stel. Me Sigcau het sommer 'n vriendin en haar kleinkind ook saamgeneem, om bv mense soos die voorsitter van Mitsubishi te ontmoet. Haar sekretaresse was ook saam. Haar naam was Hester. Soggens in die bus het Hester kom verskoning maak dat die minister laat is want sy moes nog haar klere laat stryk ensovoort. Ek weet nie eens wat Hester se van was nie.

Ek kan wel onthou by die manjifieke pagoda van die Samurai in Kioto het die minister nooit haar voete binne die pagoda gesit nie. Sy het aankope gedoen by 'n stalletjie op die terrein. Hester het met van die pakkies na die bus terug geloop.

Nou wonder ek of Hester Hoesenaam ook internasionale invloed gehad het en of sy ook gevaarpunte opgemerk het en die volk kon waarsku? Dan het ons haar lig geskat.

Izak de Villiers

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top