My jongste dogter se hande lyk geensins na myne of haar pa s’n nie – hulle is trots haar eie.
Daardie hande het onlangs 18 jaar oud geword, en hulle is so betowerend mooi dat ek my gedurig daaraan verkyk. My oë sien die gladde, kunstige hande van ’n voornemende modeontwerp-student wat met groot presisie asemrowende modeskeppings optower. My oë registreer die soepel, grasieuse hande van ’n jong meisie, en die sensitiewe, sensuele hande van ’n jong vrou wat op ’n dag ’n geliefde daarmee tot ekstase sal streel.
Soms soek my oë na die kleutervet-vingertjies van 15 jaar gelede – die handjies wat hulself teen myne gemeet het om te sien of hulle al sedert die vorige meting gegroei het. Maar ek sien hulle nie meer nie, hulle het verdwyn sonder dat hulle eens gegroet het.
Daardie handjies het toe my hande ingegroei, maar wanneer presies weet nie ek of sy nie, want toe dit gebeur het, was sy lank reeds verby die meetfase.
Waar het die tyd heen geglip?
Groete
Douwleen Bredenhann


