Bokomo-brekfisbrief; 12/08/08: Ethiopiese koffie

  • 0

Mens kry darem maar slegte koffie. Wat presies slegte koffie is, kan ook seker heelwat debat uitlok. Daar sal die puriste wees wat tevrede is met niks minder as varsgeroosterde, varsgemaalde koffie nie. Ander wat sê hulle koop net Jacobs of Nescafé Gold en dis goed genoeg vir hulle. ʼn Vriend van ons sweer dat Colombian Seattle Mountain 100% Arabica koffie die beste is. Dis belangrik genoeg vir hom dat hy elke keer as hy van Seattle af by ons kom kuier, vir ons 2kg-pakke daarvan saambring.

Ek het nooit vir my kinders koffie gegee terwyl hulle klein was nie en ek self het jare lank net rooibostee gedrink, nadat ek gelees het dat koffie ʼn mens se seksdrang verlaag en goeie vrou wat ek is, wou ek graag die beste vir ons huwelik hê.

Dit was alles goed en wel, tot my man vir die eerste keer Ethiopië toe gereis het. Die Ethiopiërs praat van al die landmerke in hulle land asof dit die grootste, diepste, oudste of hoogste in die wêreld is, sodat mens hulle partymaal nie meer wil glo nie. Drie dinge waaroor hulle brag wat egter die waarheid is, is dat hulle land die eerste land is wat in die Bybel genoem word, dat hulle die oudste kerk in Ethiopië het, en dat koffie oorspronklik van Ethiopië af kom.

Die koffiemaak-ritueel is so deel van hulle lewe soos asemhaal. Die groen bone word eers op ʼn spesiale staander oor kole gerooster, die kleur moet perfek reg wees, dit mag nie wit wees soos ie farangis (witmense) nie, ook nie swart soos die Keniane nie, maar presies so bruin soos die Ethiopiese neutbruin vel. Daarna word dit met die hand gemaal en word die koffie gemaak in ʼn ronde bodem kleipotjie wat soos ʼn toe kruik lyk, maar met ʼn tuit. Die potjie word oor kole gesit en dan moet die koffie eers trek. Die koffiemoer bly onder in die potjie en dan word die koffie geskink. Hulle drink dit met melk en suiker, maar baie sterk in ʼn klein koppietjie. Hierdie ritueel was so spesiaal dat my man met die hele apparaat en sakke vol groen bone huis toe gekom het. Ons gesin is aan die ritueel bekendgestel en van toe af drink almal weer koffie.

Ek kry nou gereeld koffie in die bed en ek dink daardie artikel wat ek gelees het was nonsens.

Geniet julle koffie.

Vega

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top