Bokomo-brekfisbrief; 12/07/2010: Werksondes: Die verkoopsman

  • 0

Manny is ‘n verkoopsman.

Daar is baie soorte verkoopsmanne en verkoopsmeisies. En oor die jare het ek met ‘n ieder en ‘n elk van hulle se soortelikheid en neigings te doene gekry. Want weet dit, elke werkerspesie het sy eie verpestelikheid. (Ek weet, my eie inkluis.)

Die goete wat ek maak moet tog verkoop word.

Met die jare saam het die verkoopsafdeling gegroei. Nie dat hulle in verhouding noodwendig meer verkoop nie. In die sin van eers was daar een, en toe twee, en later ‘n hele bleddie spul. Verkope het gegroei teen ‘n effens stadiger pas as die relatiewe aanteling in verkoopsmense. Dit pla nou nie geweldig nie want ons kom darem by met onse dinge.

Manny is ‘n ster. ‘n Soort van überverkoopman. Hy was die eerste. Is nog die eerste. Hy verkoop. Meer as al die ander saam. Hy is ‘n legendariese teenwoordigheid in die verkoopsheelal. Die meester.

Met die dat die verkopelinge so vinnig aanteel, reken my vennote om ‘n bestuurder aan te stel. ‘n Verkoopsbestuurder.

Vennoot: “HJ, ons moet ‘n bestuurder aanstel. ‘n Verkoopsbestuurder."

“Hoekom.”

Om die verkope te bestuur.”

“Hoekom. Ons doen orraait.”

“Daar is ‘n hele bende verkopers en hulle hol die wêreld rond. Iemand moet hulle dophou. Produktiwiteit en so aan. G’n mens weet wat hulle doen nie.”

“Wie?”

“Wat van Manny.”

“Sal hy die ding kan bykom?

“Hy verkoop meer as al die ander so hy moet iets reg doen.”

“Oukei. Ons kan probeer. Maar ek weet nie so mooi nie.”

Ek laat weet vir Manny hy moet my kom sien. Waar is hy in alle geval? ‘n Dag later suiker hy my plek binne en plak homselwers op ‘n stoel neer.

“Yes, boss you wanted to see me …”

“Jy is van nou af die verkoopsbestuurder.”

“Wat is dit?”

“Hoe sal ek weet. Jy moet sorg dat almal meer verkoop.”

“En hoe gaan dit my help?”

“Jy gaan meer geld kry. ‘n Bietjie meer. Jy kry van nou af ‘n salaris met byvoordele.”

“En?”

“Ons skryf op jouse kaartjie dat jy die ‘National Sales Manager’ is.”

“En?”

“Dis al. Demmit.”

“Cool.”

Manny bestuur.

Manny haat sy werkers. Hulle haat hom. Met ‘n wrewelrige haat. Hy is sinies en onbeskof. As hy onthou van ‘n vergadering is hy in alle geval laat. Ons stuur hom vir opleiding. Die kursusleier  dreig met moord. Manny slaap in die klas. Admin haat hom ook. Hy weier om enige administrasie te doen. Ons stel vir hom ‘n adminmeisie aan. Sy dreig binne ‘n week met regstappe. Sy kla hy sit net en loer na haar tieties. Die fabriek haat hom. Almal haat hom.

Vennoot: “HJ, ons moet vir Manny ‘fire’.”

“Hoekom.”

“Jy vra hoekom? Die verkoopafdeling dreig met staak. Hy speel heeldag golf. En suip. En pla die vroumense. Veral die adminmeisie met die mooi tieties.”

“Verkope?”

“Manny verkoop omtrent niksie. Die ander spandeer al hulle tyd om vir hom weg te kruip! Sy adminmeisie het haarselwers in die toilet toegesluit.”

“Roep hom.”

“Manny, die ding werk nie.”

“Watter ding.”

“Die ‘National Sales Manager’ ding.”

Sug. “Ek weet. Dis ‘n kak jop.”

“Wil jy nie maar weer ‘n verkoopsman wees nie?”

“Nee!”

“Nee?”

“Ek hou van die titel.”

“Oy vei. Ek het ‘n voorstel.”

“Wat.”

“Jy is van nou af die ‘National Sales Manager – Special projects.’”

“Wat is dit.”

“Net wat jy wil hê dit moet wees. Maar geen staf nie. Op jouse eie. Jy bly weg van almal, behalwe jou klante.”

“Geld?”

“Net kommissie.”

“Cool!”

Die verkoopsafdeling is nou al ‘n jaar lank sonder ‘n bestuurder. Hulle doen heel goed. Manny is gelukkig. Sy verkope is legendaries. Sy klante is mal oor hom. Almal is rustig. Die meester is terug.

Wys jou. Moenie aan iets krap as dit nie jeukerig is nie. As dit jeuk, moenie op die verkeerde plek krap nie. En soms dink jy net dit jeuk. Lossit.

HJ

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top