Bokomo-brekfisbrief; 12/07/08: Julie moet eintlik die maand “Mandela” word!

  • 0

Julie, soos seker baie mense weet, is vernoem na daardie grootse Romein, Gaius Julius Caesar. Julie is nie net die maand waarin Caesar gebore (12 of 13 Julie) is nie, maar ook Nelson Rolihlahla Mandela se verjaarsdagmaand (18 Julie).

Caesar en Mandela deel sekere eienskappe. So is beide uit die adelstand afkomstig alhoewel hulle in beskeie woon-areas grootgeword het. Fisies was Caesar ʼn lang en aantreklike man wat atleties gebou was. Caesar het geswem en gedraf om fiks te bly. So ook is Mandela ʼn lang en aantreklike man wat atleties gebou is en het boks beoefen. Caesar was populêr onder die gewone mense van Rome. Mandela is steeds gewild, wêreldwyd. Caesar het regeer, nie net in Rome oor die Romeine nie, maar ook oor al die ander volkere wat onder Romeinse heerskappy was. Mandela was die president van al die mense in Suid-Afrika.

Belangriker, beide manne het die bestaande orde van dinge verander. Caesar se optrede het meegebring dat die Romeinse Ryk tot stand kom en Mandela het bydrae gelewer om die konstitusionele staat wat Suid-Afrika vandag is tot stand te bring.

Maar wat beteken al dit vir ons vandag? Vir my lyk dit of daar sterk aanduidings is dat Mandela ʼn reïnkarnasie van Caesar kan wees. Hoe anders? Daarmee gee ek nie te kenne dat Mandela nie sy eie meriete het nie, want hy verdien alle eer vir dit wat hy vermag het in hierdie leeftyd. Lank voor ʼn ene Jesus Christus die wêreld kom leer het van vergifnis het Caesar al sy vyande vergewe. Net soos Caesar het Mandela sy vyande wat hom onnodig toegesluit het vergewe. Daardeur kon die Nuwe Suid-Afrikaanse Republiek vreedsaam tot stand kom, anders sou die regses die land aan flarde geskeur het. Tog is daar ook verskille. Anders as Caesar wou Mandela nie koning of lewenslange regeerder wees nie. Caesar is iewers in sy vyftigs vermoor terwyl Mandela binnekort sy negentigste verjaarsdag vier.

Na sy afsterwe is Caesar vergoddelik en is die vyfde maand (Quintilis) na hom vernoem. Die Romeine en hulle doen en late is al byna vergete. Dit is net die Britte en die Amerikaners wat nog verbete vasklem aan die Romeinse nalatenskap (kyk na die argitektuur, die regeringsinstellings soos die Senaat en hulle veroweringsdrang). Het dit nie tyd geword om ons kalender te verafrikaniseer nie? Drastiese veranderinge moet daar ook nie wees nie. Ons kan begin deur Juliemaand te herdoop Mandelamaand. So sal ons Mandela se nalatenskap vir die nageslag behou. Dit sal my nie eens verbaas as die res van die wêreld dieselfde doen nie.

Ek loof Mandela vir sy nalatenskap. Mag hy en sy nalatenskap ook vir duisende jare onthou word. Mag Mandela ook onthou word as die man wat Caesar se beginsel van vergifnis na hierdie kontinent gebring het.

Viva Mandela! Viva!

Zhi

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top