Oester, ek wil net vir jou 'n paar feite gee in verband met Indië en dan kan jy probeer om jou eie vrae te beantwoord.
Indië het van die beste universiteite en technikons in die wêreld. Hul wetenskaplikes, IT-spesialiste, ingenieurs en dokters is van die beste gekwalifiseer in die wêreld. Daar is 40 000 dokters in Amerika vanaf Indië en hulle tel onder die beste in die wêreld. In Silicon Valley is 'n groot persentasie van die rekenaarspesialiste Indiërs en meeste van die res is Asiërs.
Vanaf die 1950's het die land 'n ontwikkelingsplan in werking gestel om hulle mense die geleentheid te gee om 'n hoër kwalifikasie te bekom. Hulle begroting vir tersiêre onderwys was disproporsioneel hoër as die normale. Daardie planne is besig om vrugte af te werp.
Alhoewel hulle 'n groot persentasie ongeletterde mense het (25% mans en 45% vroue), kwalifiseer daar ongeveer twee miljoen ingenieurs elke jaar. Ek weet hulle het 'n groot populasie, maar dit motiveer die jongmense juis om baie, baie hard te werk. Van elke tweehonderdduisend aansoeke by elkeen van die tweehonderd een-en-negentig universiteite en twaalfduisend kolleges, word slegs tweeduisend aanvaar. As jy nie honderd persent vir Wiskunde en Wetenskap in matriek behaal nie, kan jy vergeet om plek te kry. Ek het van hulle Wiskundehandboeke deurgegaan; hulle handhaaf 'n goeie standaard op skool.
Die wiskundige en wetenskaplike uitnemendheid by die Indiërs is 'n ingebore disposisie. In Being Indian skryf Pavan K Varma: "Some western scholars believe that Indians have an intuitive insight into the behaviour of numbers ..."
Hy skryf ook dat hul ingebore gevoel van minderwaardigheid hulle dikwels kniehalter in die kompeterende Westerse wêreld. Dit kan te doen hê met kolonialisme en die kastesisteem wat erg deur die Britse kolonialiste uitgebuit is.
Ek was al 'n paar keer daar en het verby 'n universiteit gery waar die ouers en kinders in lang toue staan om saam met duisende ander die toelatingseksamen te gaan skryf. Dit is baie belangrik om in te kom anders kan jy ook nie beding vir 'n goeie lewensmaat nie. Die koerante is vol advertensies van mans en vroue wat soek na 'n geskikte lewensmaat en jy sien nooit 'n laer kwalifikasie as ʼn MBA of PhD nie. Daarsonder kan die hoër kastes vergeet om 'n man of vrou te kry.
Vega (wat volgende week hierdie tyd hopelik in Indië gaan wees.)


