Ek praat vandag as ʼn Engelsprekende wat in Pretoria baie lank gelede groot geword het.
Om te kan speel in die buurt, moes ek die taal aanleer. Dit was nie moeilik nie. Dit maak sin en is nie gebonde aan duisende onnodige taalreëls en -regulasies nie.
Vandag nog is Afrikaans my voorkeurtaal wanneer ek gedagtes wil neerpen. Dit voel en vloei makliker, dit rym en redeneer makliker en daar is so baie om van te kus en te keur.
Ek verstaan dat julle baklei vir jul geliefde taal, maar is dit regtig nodig? Dit gaan nooit uitsterf nie. Daar is te veel mense wat dit gebruik, wat dit lees en verstaan en wat lief is daarvoor.
Vergeet van die dinge wat verby is. Die apartheidstydperk het baie slegte aspekte gehad en die taal is gebruik om mense te onderdruk. Maar dink net ʼn bietjie aan die Engelse taal.
Die magtige koningryk het hoeveel meer mense onderdruk, mishandel, vermoor en verskriklike onreg aangedoen en hulle het net Engels gepraat. Ek kry nie eintlik enige briewe of skrifte wat kla en kerm daaroor nie. Vra die miljuisende inwoners en hul nageslagte wat destyds deel van die “colonies” was en party wat nog is, of hulle enige wrok teenoor die taal koester.
Selfs hier in ons eie RSA het die Engelse gekom en gesteel en niemand rep ʼn word oor hulle taal nie.
Engels is die bekende taal wat gebruik word vir besigheid. Wees dankbaar julle is meer as een taal magtig – dink net, as jy nou na enige ander plek waar Engels nie die voertaal is nie, sou emigreer – dit gaan ʼn hengse gesukkel afgee en as jy nou moeg gesukkel is, kan jy salig ontplof in Afrikaans – a very beautiful and expressive language.
Lavinia


