
Hiert, al julle mooi jongelinge en meisjes!
Tant Suurgat Lil het vandag 'n droewige kwelling.
Tante en die oulike Suurgat Oom kuier by familie in die Vrystaat en is naamlik vanoggend met 'n woeste suspensiegeklap en skril woorde van die motorbestuurder dwarsdeur 'n donga in Parkweg naby die Parkweg-polisiestasie, so erg dat Tante na dese heel van koek tot kakebeen gestrem is pleks van net links onkapabel.
Tante se post-beroerte Sunday-Go-To-Meeting trollie (die werksdagtrollie is tuis geparkeer in Tante se parlour) op die agterste sitplek se brieke het sommer vanself gebriek, maar die donga was groot, die draai op hande en die bestuurder paraat besig om die verkeer te bestudeer. Daar was karre voor en agter en regs en 'n sypaadjie vol pedestriane links; dus was die enigste pad voorwaarts, en toe deur die slaggat.
Tant Lil is nie gewoond aan sulke wipgatgeite in die tuisdorp nie, ook nie in een van Bloem se grootste dorpstrate nie, en die oulike stigtelike Suurgat Oom was skoon beige geskrik en het 'n verskeidenheid tale gebesig (die woord *** kom te berde ...).
Nou vra Tante so mooi: As daar dalk 'n paar sente oorbly van die R75 miljoen se graspaartie in Tshwane, kan daar miskien iemand met 'n sakkie klippers en 'n teerputs in die hand net gaan en die donga gaan opvul? Tante se konstitusie sal nie nog 'n trefslag kan handle nie. Ag dankie.
Gaat julle allemaal geweldig, nè.
Tant Suurgat Lil (die gekompakteerde edisie)
(Ek hoop vir die oom se part tante se koek herstel gou! Die ou kakebeen kan maar bietjie wag, reken ek. - Melt Myburgh)

