Die afgelope naweek toe die familie weer bymekaar was dink ek toe weer aan dié storie.
Op ’n stadium, so ’n paar jaar gelede, kom ek af op n pak briewe wat dateer uit 1970/71 uit.
Ek was in die army en twee van my broers op skoolkoshuis en ons het heelwat briewe verwissel destyds.
Toe sit ek die briewe in datum volgorde en begin lees. Party kon ek nie in volgorde sit volgens datum nie want my jonger broer het nie altyd sy briewe dateer nie.
Maar ek het my by die dood gelag. Ek kon nie ophou nie. Van die goed wat hulle vir my geskryf het, was absoluut skreeusnaaks. Destyds was dit nie.
Die kinderlike skryfstyl en die stories wat daarmee gepaard gaan het die ding gedoen.
Daai was die dae van bellbottoms.
So skryf die broer van my in een van die briewe dat hy nou sy sakgeld wil spaar om vir hom ’n paar bellbottom jeans te koop.
In ’n volgende brief vertel hy dat hy ’n paar gesien het in ’n winkel se venster vir R4.95 en dat hy dink dit ’n ripoff-prys is. So baie is hy nie bereid om te betaal nie.
In die volgende brief sê hy dat as dinge gaan aangaan soos dit nou aangaan dink hy nie dat hy die geld bymekaar sal hê om teen die einde van die jaar daai broek te koop nie.
In die daaropvolgende brief sê hy: Faansie, wil jy nie maar daai paar bellbottoms van jou vir my gee nie.
Ai, daai was die goeie tye.
Faansie


