Hey, engeltjie!
Kwel jou tog nie oor jou kleinseun se spraakprobleem nie. Dit kom vanself reg. Voorbeelde: My man, Buks, kon nie ʼn L sê nie, nes jou kleinseun nie ʼn K kan sê nie. Hy het dit vervang met ʼn J. Sy ma het hom geleer "sê pil", dan sê hy pil, "Sê lank", dan sê hy lank. "Sê nou pil -lank, plank," dan sê hy pie ... jank! Een dag, uit die bloute, toe hy vyf was, het hy begin la-la-la sing, en nooit weer ʼn probleem gehad nie.
My dogter Yvette kon weer glad nie ʼn G sê nie. Sy het dit vervang met ʼn V. Haar broer, Buks, wat vyf jaar ouer as sy is het haar probeer leer, maar meer gespot as geleer ... Toe hy 9 was en sy 4, het hy vir haar gesê: "Dollapop, gaan sê vir Dad hy is ʼn gatvlieg." Dan draf sy na Pa toe en sê: "Dedda, Bussie sê Dedda is ʼn vatvliev." As Pa dan opspring en sê "Wat?", is sy gou op die verdediging met "Dis net ʼn vrappie!" Pa sê: "Yvettie, sê g-g-g- glas". Dan sê sy "v-v-v-vlas."
"Nee, man, g-g-g-glas."
Haar antwoord: "v-v-v- vlas, ek speel nie meer saam nie!"
Op 5 jaar het sy eendag na haar broer toe gestap met elke bloedrooi krul wippend en elke sproetjie duidelik sigbaar, en gesê: "Buksie, jy is ʼn g-g-g- gatvlieg!" en van daar af was daar nie ʼn probleem nie.
My eie kleinseun, Ryan, die einste Buks jnr se seun, het vandat hy begin praat het, ʼn R met ʼn J vervang. Hy het homself Jyan (jaaien) genoem. Almal het gedink dis omdat hy so prematuur was, hy is op 29 weke gebore met ʼn nood-keisersnit, en het net 900 gram geweeg. Drie maande in Neonataal Intensief op suurstof het hom ʼn intellektuele voorsprong gegee, en hy het al sy mylpale oor die kleuterjare ingehaal, en kon vlot praat in volsinne op ʼn baie vroeë ouderdom, behalwe vir die R. Kinder-kinetika, swemlesse en karate het die triek gedoen, want toe hy die eerste keer Kajati sê, het die kinders gelag, en van daar af was dit Karate en was sy naam Ryan.
Sy sussie, Dené, egter, het sy naam geleer as Jaaien, en alhoewel sy ʼn R vlot kon sê, het sy hom lank nog Jaaien genoem, tot hy eendag vir haar gesê het "ek is Ryan, hoor jy, rrrrryan!"
"Okay, okay," het sy teruggekap op twee en ʼn half. "As jy Ryan is, dan is jy Ryan, hou net op "nag!" (mens kan hoor hoe haar pa sê "Denétjie, hou tog net op "nag!") Weereens, op 5 jaar kon hy die R vlot sê.
Drie voorbeelde, 55 jaar uit mekaar, elkeen opgeklaar op 5 jaar. Neem hom gerus na ʼn oudioloog, maar moenie ʼn issue daarvan maak nie, eendag sal die tom kom word, en as hy iewers begin sê "Kom" in ʼn supermark en jou na die speelgoed toe sleep, sal jy besef hoe jy Tom mis!"
Joy en Blessings
Leandré Hanekom


