Gegroet Jaco
Jy vra hoekom dit vir my meer aanvaarbaar is dat woorde uit enige taal behalwe Engels in Afrikaans opgeneem word. Was dit nie logies uit my verduideliking dat Engels geen gevaar loop om deur Afrikaans oorgeneem te word as Engels Afrikaanse woorde oorneem nie? Laat ek dit dan uitspel: Met die dat Engels alomteenwoordigend is, oral soos die aanhaling in jou brief se opskrif, EN gegee dat die TV- en radiostasies saam met die regering werk om Afrikaans uit te roei, kan Afrikaans nie BEKOSTIG om Engelse woorde op te neem nie.
Nog ‘n ding, Engels het ‘n geskiedenis as taalmoordenaar; vra maar die Iere, Skotte en Walliesers. Trouens, vra maar die Afrikaner; daar is reeds die wat hulle kinders in Engelse skole het en dié se kinders gaan, logieserwys, voortaan Engels wees. Daar is ook die wat probeer opgradeer Engels toe, die wat in die openbaar Engels praat want hulle reken Engelswees laat hulle uitstyg vanuit ‘n laer klas.
Buitendien, Engelse woorde, oor die algemeen, pas nie in by wat jy maar kan sê die “sleutel” van Afrikaans nie. Luister maar hoe absoluut walglik klink die Afrikaans op Jip, die effek is erger as die skree van kryt op ‘n leiklipbord (onthou jy nog hoe’t almal se hare regop gestaan destyds op skool wanneer dit gebeur het?). “Piering”, “blatjang” (met ‘n ‘t’ Jaco), “bobotie” (eerste een is ‘n “o”, nie ‘n “a” nie), “piesang”, “baie” ens uit Maleis pas wel in. Om die waarheid te sê, mens kan eintlik nie eers sê dit pas beter nie want dit is nooit “opgeneem” in Afrikaans nie; dit is deel van Afrikaans van sy ontstaan af. Jy kan dalk sê dit is opgeneem in Hollands om Afrikaans te vorm.
Jy praat van “plaaslike afwykings” in Engels. Ek weet nie presies wat jy daar bedoel nie maar moenie die fout maak om verbastering met ‘n ander taal te verwar met aksente nie. Verskillende streke het verskillende aksente (of hoogstens dialekte) wat iets heel anders is as een taal wat ‘n ander versmoor.
Jy sê “maid” en “meid” klink foneties dieselfde en dit is nie so nie. Interessant genoeg het dit wel in SA-Engels en Afrikaans min of meer dieselfde betekenis. Die Hollandse woord “meid”, wat wel foneties dieselfde as die Afrikaanse is, is ekwivalent aan die Afrikaanse “meisie” of die Duitse “mädel”. Ek noem dit maar net want dit lyk my jy is weer onder die indruk dat “meid” van “maid” kom. Die feit dat dit in SA min of meer dieselfde beteken is ‘n latere ontwikkeling, soos “boy” byvoorbeeld in Amerika en Engelsprekende Afrika taboe is (maar “seun” is nie).
Wat my altyd verbaas is hierdie gedagte, ook gehuldig deur jou en Yuri (moet dit nie eintlik “Jurie” wees nie?), dat, en ek haal jou aan, “blankes [Afrikaans] mettertyd verfyn en vir hulself gekaap het.” Hoe op aarde is dit moontlik? As jy Engels praat, is jy besig om die taal by die Engelse te kaap? Ek sal graag dat julle hierdie eienaardige opvatting beter omskryf; miskien verstaan ek nie mooi wat julle bedoel nie.
Jou antwoord aan my ten opsigte van jou Engels hou nie water nie. Jou Afrikaanse brief is vol foute, NIE na die beste van jou vermoë soos jy beweer nie. Jy het byvoorbeeld “blatjang”, “bobotie” en “kleurlingbediendes” verkeerd gespel (niks ernstigs nie; ek het waarskynlik meer spelfoute as jy gemaak) maar ek kan jou ‘n briefie gee dat jy dit nie in Engels sal doen nie. Nie een van die Afrikaanssprekendes hier wat hul taal so meng (soos oa Ronel en Verushca) sal ‘n soortgelyke Engelse brief skryf nie; hulle sterf eerder tien dode as om op daardie manier as Afrikaans geïdentifiseer te word. Die wat dit wel oorgekom het sit hulle kinders in Engelse skole sodat die arme bloedjies nie dieselfde skande moet oorkom nie. Die rede? Engels is hulle erns, Afrikaans nie en die redes daarvoor het ek al voos deurtrap.
Ek sê weer, ek betoog nie dat ons Afrikaans in ander se kele moet afdruk soos jy tussen die lyne beweer ek wil maak nie; ek sê bloot ons moet behandel word soos gewaarborg deur die grondwet. Ons benadeel ons taal deur aan te hou met hierdie gedienstigheid, hierdie Engelspratery “omdat die swartes nie van Afrikaans hou nie” soos jy dit wil hê. Afrikaans is reeds besig om te verdwyn; luister maar na RSG en KykNET en ons moet nou vasskop. Nou is dit die tyd om dit ons erns te maak.
Groetnis,
Jan Rap


