Bokomo-brekfisbrief; 12/01/2011: Op reis maar oornag in die Karoo

  • 0

Hierdie stukkie moes ek dalk eerder gestuur het voor die vakansie. Dalk sou dit iemand beïnvloed het om sy/haar vakansie te geniet van dag een af en om die reis na die see of binneland ook te geniet en nie te sien as ’n stuk dooie pad nie.

Daardie stop langs die pad om te eet en dan vir al die karre wat verby kom te waai, was nogal anders as vandag. Soms was die persoon by wie jy verby ry baie plesierig en waai nie net as jy toeter druk nie, maar gee so paar “danspassies” ook. ’n Teken van die man is gelukkig en geniet dit.

Ek stop nog gereeld langs die pad. En dis nie waar dat dit gevaarlik is nie. Mense jaag spoke op en sien in alles boosheid. Die afgelope vakansie was ek nie weg nie en ek sien baie uit na my volgende langpad-ry.

*

“Pa wanneer gaan ons met vakansie?”

“Ou seun, so gou moontlik nadat die skool Vrydag sluit. En ons ry regdeur want ek wil nie tyd mors nie. Ek en ma sal beurte maak om te bestuur as ek moeg word.”

“Pa, oom Pieter-hulle gaan na dieselfde plek as ons en hulle ry eers die Dinsdag nadat die skool gesluit het. En Klein Pieter sê vir my hulle gaan daar in die Karoo by ’n plaas oornag. En pa, hy sê hulle doen dit altyd, want dis baie lekker.”

“Ou seun, dis tydmors en kos onnodig ’n klomp geld. En vir wat wil ek nou ook op ’n plaas in die Karoo gaan slaap.”

“Pa, Klein Pieter sê na die skole sluit kry hulle eers al hul dinge by die huis in orde. Dinge soos dat hul hond versorg word, die sekuriteitmense ingelig word tot wanneer hulle weggaan, dat die bure die pos moet uithaal en sulke goed. Hulle was die kar en kry al die vakansiegoed sonder haas reg. En Pa, die geld wat hulle spaar omdat hulle later by die vakansieplek bespreek is, is genoeg om te betaal vir die oornag op die plaas.”

“Nou seun, wat’s so lekker om by die vakansieplaas-ding te oornag?”
Pa, Klein Pieter sê hulle kom altyd so laat namiddag daar aan, want hulle stop langs die pad by die afdraaie om iets te drink en te eet. Lekker toebroodjies en gekookte eier en worsies en goed. En as hulle op die plaas kom dan gaan hulle so ’n draaitjie in die veld loop. Net om bene te rek en oom Pieter sê om te voel hy’s weer mens, want die lug is skoon en daar’s nie geraas nie. En hulle kap altyd met ’n kleiner klip op ’n groter een en dan klink dit soos yster op yster. Klein Pieter sê as mens klippe van groot na klein in ’n ry sit en dan daarop kap sal mens sweer jy kan musiek maak soos op ’n xilofoon. Kan dit wees pa?

“As hulle terug is by die kamers, dan gaan swem hulle in die plaasdam. Die aand maak hulle van een of ander bos vuur en dan braai hulle vleis. Die oom sê dat as die Karoo reën gekry het, dan het daardie bosse sulke geel blomme in die lente. En dis mooi. En die Karoovleis en -wors smaak anders saam met braaibroodjies en goed.

“Hulle gaan altyd vroeg slaap. Maar eers kyk hulle na die sterre. Hy sê dit lyk asof die sterre sommer net bokant die rante is. Sy pa wys dan vir hom waar is die Suiderkruis en hoe mens kan rigting hou deur na die Suiderkruis te kyk. Hulle sien die Melkweg en Venus en al die ander sterretekens. Pa dis hoekom klein Pieter so van alles weet. Meneer sê so.

“Hulle staan altyd vroeg op en dan gaan die oom en tannie en Klein Pieter stap. Hy sê dit voel vreeslik lekker om so die vars lug in te asem. Die oom sê dan, Dis hoe vars lug moet proe. Pa kan mens vars lug proe? As hulle so stap mag klein Pieter nie praat nie want sy pa sê hulle moet die grootheid van die Skepping met sy skoonheid en rustigheid ervaar. Dit klink na grootmensdinge, Pa. En dan kyk hulle wanneer die dag breek en hoe die son sy kop uitsteek. Klein Pieter sê as hy groot is gaan hy eendag die son se opkoms afneem met ’n groot kamera en hy gaan ’n gedig daaroor skryf omdat dit altyd vir hom laat dink aan die geboorte van die wêreld. Eers die rooi skynsel en die rante en koppies se lyne wat mens op die horison sien en dan die helder son sonder die rook en mis wat mens in die dorpe en stede sien. En dis alles baie mooi.

“Pa, ons moet ook nie vanjaar weer jaag om by die vakansieplek te kom nie. Ek wil ook sien en proe wat Klein Pieter saam met sy pa en ma geniet nog voor hulle by die vakansieplek kom. Asseblief pa!”

Jakkie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top